Resensie: ‘Dis die liefde’ – Riaan Grobler

Riaan-Grobler

Riaan Grobler se jongste album “Dis die liefde”. Foto: Facebook.

Deur die jare was daar ʼn aantal radio-omroepers wat ook besluit het om sangloopbane te volg. Die bekendste hiervan is sekerlik Pieter Koen, maar die Jacaranda-omroeper Martin Bester het ook onlangs sy eerste enkelsnit as sanger vrygestel.

Riaan Grobler is al jare lank ʼn radio-omroeper, en hoewel hy vir eers op daardie loopbaan gefokus het, het hy besluit om weer ʼn CD, naamlik Dis die liefde, vry te stel. Die eerste snit op die album, “Rooi granaat”, is ʼn oorsese melodie waarvoor Sarah Theron die Afrikaanse woorde geskryf het.

“Laat my lewe, laat my liefhê” was die titelsnit van een van Bles Bridges se suksesvolle albums. Riaan het dit opgeneem en niemand anders nie as Juanita du Plessis sing dit saam met hom. Die titelsnit is iets wat ʼn mens nie meer aldag hoor nie, naamlik ʼn wals. Juis daarom is dit iets besonders; ʼn mens hou duim vas dat daar radiostasies is wat die moed sal hê om dit gereeld te speel.

“Kinderjare” is ʼn snit wat jou sal laat verlang na jou jong dae, en daarom behoort dit baie gewild te wees. Dalk sal jonger luisteraars geen benul hê van dit waarvan Riaan hier sing nie, maar wat maak dit saak? Die wysie van “Elke dag is ʼn geskenk” is bekend; Freda Francis se treffer “Ou verhale” van byna 20 jaar gelede is op dieselfde wysie gesing.

Soos die meeste snitte tot dusver, is “Liedjie vir vrede” ʼn oorsese komposisie met liriek deur Sarah Theron. Die eerste Engelse snit op die album is Don Williams se treffer “It must be love”. Die volgende snit, “Gooi ʼn bietjie lyfie”, sal veral onder jonger luisteraars  byval vind. “Jy’s my engel” was oorspronklik ʼn treffer vir Alanda, wat sedertdien nog nie weer ʼn CD vrygestel het nie.

“Karoonag” was seker Coenie de Villiers se grootste treffer tot dusver, en David Fourie sing dit saam met Riaan. “Twaalf uur” is ʼn komposisie van Elsje Heunis wie se dogter Lemé ook onlangs ʼn nuwe album vrygestel het.

Riaan het “Ken jy jou lewe?” nie self geskryf nie, maar hy dra dit aan sy pa op. In “Jakarandastad” sing Riaan natuurlik van Pretoria; daarom is dit ironies dat dié snit ʼn Europese klank het. Weer eens is die wysie bekend; dit is dieselfde as dié van Guillaume se treffer “Somer in die stad”.

Nadia Beukes het al verskeie dinge in die vermaaklikheidsbedryf gedoen; sy is ʼn aktrise, die aanbieder van Boer soek ʼn vrou, en sy is ook elke weeksoggend op Die Groot Ontbyt op kykNET te sien. Miskien weet nie almal dat sy kan sing nie, maar dan moet ʼn mens sê dat die operasanger Rouel Beukes haar pa is. Nadia sing “Drie wense” saam met Riaan, en ʼn mens hoop dat dit een van die enkelsnitte van die album sal wees.

Nog ʼn duet op die album is die eerste enkelsnit, naamlik “Mi amore”, wat Rinel Day saam met hom sing. Rinel het haar die afgelope tyd gevestig as ʼn kunstenaar uit eie reg, en hulle klink baie goed saam. Die laaste snit op die album is “Die nuwe Jerusalem”, wat oorspronklik deur Rina Hugo gesing is. Hy het dit opgeneem ter nagedagtenis aan sy broer, André.

Riaan se aanhangers moes lank wag vir hierdie album, maar op die ou einde was dit die moeite werd. Noudat hy ook landswyd op televisie te sien is, sal ál meer mense van hom kennis dra en behoort hy ál gewilder as sanger te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

roekeloos ·

Cd is oky ek moet se eks jammer ekt nie maar nog gewag voor ek hom koop nie dis nie Riaan quality nie hy kan beter eks baie lief vir hom maar as ek moet se is die CD so 4/10 mens luister baie moeilik na hom, maar Riaan support jou nogsteeds,,

nico fourie ·

Dit klink vertraag. Wat is fout met Afrikaanse musiek?

Christa ·

Wonder wanneer is die CD op iTunes beskikbaar. Ek koop al my musiek digitaal. Koop glad nie meer CD’s nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.