Resensie: Dis hier dis nou – Jacqueline

jacqueline-luies

Jacqueline Luies se debuutalbum is nie jou gewone Afrikaanse musiek nie. Foto: Argief.

Deur die jare was daar al verskeie pogings om iets radikaal nuuts in Afrikaans te doen, maar nie alles was noodwendig suksesvol nie.

Daar was egter nog nooit ‘n kunstenaar wat dit gewaag het om met vokale trans-musiek in Afrikaans vorendag te kom nie. Daar was wel al kunstenaars wat ‘n stap in daardie rigting geneem het, onder meer Anneli van Rooyen, André Schwartz en Jennifer Zamudio, maar nie een van hierdie kunstenaars het hulle op hierdie musiekgenre toegespits nie. Dit het egter nou verander met die bekendstelling van Jacqueline Luies (wat net onder haar naam sing) se debuutalbum, Dis hier dis nou.

Die titelsnit gee ‘n mens ‘n goeie idee van wat om op die album te verwag. Dit sal verseker die dansvloere vol kry, maar dit gaan moeilik wees om dit met enigiets anders as begeleidingsnitte op die verhoog te sing. Daar word ook van heelwat ateljeetegnieke gebruik gemaak. Hoewel diegene wat eerder na “regte” musiek luister, sekerlik hul neuse hiervoor sal optrek, sal dit by ‘n jonger gehoor, asook dié wat nog jonk van gees is, byval vind. Die tweede snit op die album is Tekens, wat sy saam met Ferdinand Skead, die regisseur van die album, geskryf het. Wie sal vir my sing is en van die hoogtepunte van die album; dit is ‘n komposisie van Waldo Greeff, wat heelwat bydraes tot die album gelewer het. Die donker verwdyn is een van die rustiger snitte op die album, en hoewel dit nie as een van die moontlike treffers beskou word nie, verdien dit radiolugtyd.

Vinkel en koljander is die eerste enkelsnit vanaf die album, en die musiekvideo, wat onderaan gesien kan word, word gereeld op kykNet gespeel. Vir my geleen, nog ‘n komposisie van Waldo Greeff, is nog ‘n snit met trefferpotensiaal. Alle goeie dinge is nog ‘n goeie komposisie van Waldo Greeff, en die woorde is nie so oppervlakkig as wat ‘n mens van hierdie tipe musiek sou verwag nie. Alicia Geyer het Ek roep na jou saam met Ferdinand Skead geskryf, en Jacqueline beskou dit as een van haar gunstelingsnitte vanaf die album. Stoksielalleen is ‘n nuwe snit en het niks met David Kramer se gelyknamige treffer te doen nie. Die musiekvideo is in die proses om op YouTube gelaai te word, en dit sal byna verseker een van die treffersnitte vanaf die album word. Van voor af verlief klink heeltemal anders as die res van die album; dit is ‘n rustiger snit as die ander en dit verdien beslis om ‘n treffer te word. Franzette van Niekerk het Gee my jou hand saam met Jacqueline en Ferdinand Skead geskryf; die enigste kritiek teen hierdie snit is dat dit effens lank is. Te laat, nog ‘n komposisie van Ferdinand en Waldo, is nog ‘n goeie snit wat dalk ‘n bietjie te lank is. Die laaste snit op die album is Gee my meer, een van die lekkerste snitte op die hele album en nog ‘n moontlike treffer.

Ons Afrikanervolk is berug daarvoor dat ons nie sommer bereid is om nuwe idees te aanvaar nie, en ons het gewoonlik vooropgestelde idees van hoe musiek behoort te klink. Daarom het Jacqueline ‘n groot risiko geloop om hierdie album vry te stel; dit kan ‘n reuse sukses wees of ‘n volstrekte mislukking. Hoe ook al, dit is iets heeltemal nuuts in Afrikaans, en Jacqueline moet gelukgewens word met haar waagmoed. Hopelik sal hierdie album baie gewild word, veral onder die jonger luisteraars op wie dit gemik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Engela ·

Sy sing awesome … haar musiek is soos storie boek en almal van ons kan ons een of ander tyd in ons lewens vereenselwig met die stories in die album …you go Jacqueline

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.