Resensie: Dit is die land – Hennie Jacobs

Hennie-Jacobs

Hennie Jacobs se album, Dit is die land, is eintlik ‘n heruitreiking van sy debuutalbum. Foto: Hennie Jacobs se Facebookblad.

Ons ken hom as Diederik van 7de Laan, maar Hennie Jacobs is ook nou besig om hom as sanger te vestig.

Sy tweede album, Dit is die land, is onlangs uitgereik. Dit is eintlik ʼn heruitreiking van sy debuutalbum, Velcrohart, maar met ʼn paar nuwe snitte ingesluit. Nogtans is dit dalk die moeite werd om volledig oor hierdie album te berig omdat nie almal aan sy musiek blootgestel is nie.

Die heel eerste ding wat jy agterkom as jy na Hennie luister, is dat hy ʼn goeie tweede bas-stem het; hy is met ander woorde ʼn lae bas.

Hennie het al die Afrikaanse liedjies op die album self geskryf, en die eerste een is een van die nuwes, naamlik die huidige treffer Wolraad Woltemade. Hy begin die liedjie in ʼn lae register sing, maar sing dan later ʼn oktaaf hoër. Hy vertel die storie van hierdie bekende held van die verlede, en sy boodskap is dat hy wens dat hy dit vir die vrou in sy lewe kan doen. Die tweede snit is Peanutbutter en stroop, waarin hy vertel van twee doodgewone mense wat op mekaar verlief geraak het en later getroud is. Die titelsnit is ʼn raak beskrywing van die lewe in Suid-Afrika, en weer eens beïndruk hy met sy vokale reikwydte. As daar één snit is wat volpunte verdien, is dit Rykmans squatter camp, waarin hy ondubbelsinnige standpunt inneem teen die veiligheidskomplekse wat die afgelope paar jaar soos paddastoele in stedelike gebiede opgeskiet het. Nog ʼn snit wat op die Velcrohart-album voorgekom het en wat radiolugtyd gekry het, is All night breakfast girl.

As ek kon vertel die storie van hoe hy die liedjieskrywer en pianis Christa Steyn leer ken het, en hy dra dit ter nagedagtenis aan haar op. Christa is drie jaar gelede aan kanker oorlede. Hy vertel onder meer hoedat die ander basse in die skoolkoor jaloers was omdat hy haar so goed geken het. Daar is baie mense wat “bucket lists” het; dinge wat hulle wil doen voordat dit te laat is. Op Emmerlys sing hy van die dinge wat hy nog wil doen. Op Soen vertel hy die ware verhaal van hoe hy sy vrou ontmoet het. Die enigste werklik bekende snit op die album is Kenny Rogers se groot treffer The gambler, wat sekerlik dié bekende country-sanger se grootste treffer in Suid-Afrika sou wees. Dit is egter verbied toe dit bekendgestel is omdat dobbelary destyds onwettig was. Hoe ook al, Hennie se opname daarvan is skitterend, en weer eens sing hy dit in ʼn lae register. Langpad is ʼn lekker snit wat eintlik al ʼn treffer moes gewees het.

Ongelukkig het Hennie se 7de Laan-karakter Diederik nog nie veel in dié bekende sepie gesing nie, maar Kaalgat in die kas is ʼn uitsondering. ʼn Mens moet die woorde net nie té ernstig opneem nie. Op Kinderdae helde sing Hennie van sy grootwordjare; die meeste mense sal hulle sekerlik met die woorde kan vereenselwig. Smoorverlief is die laaste nuwe snit op die album en nee, dit is nie Adam se gelyknamige treffer nie. Volgens Hennie is dit die liedjie wat Diederik vir Kim in 7de Laan sou sing. Kwa kwa song is ʼn goeie snit, en soos Chris Chameleon maak hy geluide met sy mond. Baie mense hou dalk nie daarvan nie, maar dit is ʼn kuns en dit is nie enigiemand wat dit kan regkry nie. Hennie en sy vrou het twee dogtertjies, en Nua is aan die oudste een opgedra.

In the jungle is die hoogtepunt op die album. Dit is eintlik niks anders as The lion sleeps tonight nie, maar Hennie sing dit op sy manier. Om mee te begin, sing hy falsetto, en dit is alreeds iets besonders. Hennie sing van verskillende diere, onder meer leeus, voëls, brulpaddas en seekoeie en hy maak al die geluide met sy mond. Ek het onlangs by ʼn konsert gehoor hoedat hy dit sing en ek het gelê soos ek gelag het. Hierdie snit bewys bo alle twyfel dat Hennie ongelooflik talentvol is. Op die laaste snit, Net vir nou, sing hy van die redes hoekom hy trots Afrikaans is.

Daar was al verskeie akteurs wat sangloopbane begin volg het, en nie almal was tot dusver suksesvol nie. Onder dié wat sukses met toneelspel en musiek behaal het, is Steve Hofmeyr, Philip Moolman en Richard van der Westhuizen. Hennie se naam kan ook hierby gevoeg word. Hy is ʼn uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer, en die feit dat hy kitaar speel tydens sy optredes, tel beslis in sy guns. Dit is hoog tyd dat hy die erkenning as sanger kry wat hy verdien.

Hier is die musiekvideo van Hennie se treffer, Wolraad Woltemade:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.