Resensie: ‘Drome’ – Heuning

Heuning-Drome

Die groep Heuning se tweede album Drome is nou op die rakke beskikbaar. Foto: Argief.

Deur die jare was daar al baie meningsverskille oor of daar iets soos Afrikaanse country-musiek bestaan.

Daar is diegene wat dink dat enige musiek met ’n country-klank as country beskou kan word, ongeag waar dit vandaan kom of in watter taal dit gesing word, mar daar is ook dié wat tereg meen dat country net uit Nashville in die Amerikaanse staat Tennesee kan kom en dat jy nie country in Afrikaans kan sing nie.

Die sangpaar Heuning, wat bestaan uit Henk Dercksen en Jeanette Roodman, is onder dié wat met die eerste siening saamstem. Hul tweede album, Drome, is onlangs vrygestel en die titelsnit, die eerste snit op die album, was reeds ’n treffer.

“Engele my kom haal” het ’n besliste country-klank en dit kan ’n treffer word mits dit genoeg radiolugtyd kry. Jeanette het “Ek wil met jou dans” help skryf; dit is beslis ’n snit wat radiolugtyd verdien. “Skree”, ’n komposisie van Vaughan Gardiner, is die huidige treffer, en die woorde laat ’n mens dink. “Heuningbekkie” is ’n lekker snit wat klink soos wat country-musiek moet. Die musiek klink ’n bietjie soos dié van Keith Urban se treffer “Somebody like you”, maar dit is so lekker dat dit nie regtig saak maak nie.

Soos die meeste ander snitte is “Trek my nader” ’n oorspronklike komposisie, en weer eens kan dit ’n treffer word. “Kom ons vat ’n kans” het niks te doen met Elizma Theron en Nicholis Louw se gelyknamige treffer nie; dit is ’n goeie oorspronklike snit. “Aanhouer wen” is nog ’n snit wat met die beste country uit Nashville kan vergelyk; die vraag is net of radiostasies dit sal speel.

Die meeste snitte op die album is vrolik en opgewek, maar “Een laaste soen” bewys dat hulle ook rustiger liedjies kan sing. Met “Alles in jou” draai hulle egter weer die krane oop; dit is dalk een van die lekkerste snitte op die hele album. Die laaste Afrikaanse snit op die album is die pragtige “Hier vir ’n rede”, en weer eens laat die woorde jou dink. Die enigste Engelse snit op die album is “Tonight, tomorrow and always”; hier bewys hulle dat hulle ewe goed Engels as Afrikaans kan sing.

Die debat oor die bestaansreg al dan nie van Afrikaanse country-musiek is nog lank nie verby nie, maar Heuning se Drome is een van die meer geloofwaardige pogings wat die afgelope tyd verskyn het.  Miskien sal die “country-puriste” die neus optrek vir hierdie album, maar enigiemand anders sal dit geniet.

  • Heuning het ook onlangs in Maroela Media se ateljee kom kuier, luister hier na die onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.