Resensie: Droom – Alexander

Alexander-Droom

Alexander het onlangs sy nuwe album getiteld, Droom, vrygestel. Foto: Verskaf.

Deur die jare het Afrikaanse kunstenaars seker al elke moontlike musiekgenre probeer baasraak; van rock tot kwaito; selfs reggae en rap.

Een genre wat nie juis aanklank gevind het onder Afrikaanse kunstenaars nie, is swing. Hoewel ‘n program van een van die pioniers van Afrikaanse musiek, Danie Bosman, ‘n paar jaar gelede by kunstefeeste in hierdie styl aangebied is, was dit omtrent nog net Steve D wat dit gewaag het om hierdie soort musiek in Afrikaans op te neem.

Nou is daar egter ‘n nuwe kunstenaar wat besluit het om dit aan te pak. Alexander Venter, wat net onder sy naam sing, het met die hulp van Heinz Winckler ‘n mini-album vrygestel wat uit vyf snitte bestaan. Die vraag is net of die publiek, en natuurlik die radiostasies, in hierdie soort musiek sal belangstel.

Die titelsnit is ‘n komposisie van Heinz Winckler en dit is die tipe snit wat by enige radiostasie se speellys gevoeg kan word. Alexander beskou Michael Buble en Frank Sinatra as sy  rolmodelle, maar dit is nie so duidelik in hierdie snit nie. Dit behoort ‘n treffer te word en hom in die musiekbedryf te vestig. Alexander het “Stille waters” saam met Heinz Winckler geskryf en hoewel hierdie idioom al te veel kere in Afrikaanse musiek gebruik word, is die lirieke andersins baie goed.

Die derde snit is die treffersnit, “Jy maak ‘n kruis”, waarvan die musiekvideo hieronder te sien is.  Hier kan die Michael Buble-invloed duidelik gehoor word, maar weereens is dit ‘n goeie snit wat ‘n treffer kan word. “Jakarandakoningin” was een van Heinz Winckler se groot treffers en  die swing-verwerking daarvan is iets besonders. Dit sorg dat jy van voor af daarna luister en diegene wat hou van musiek met iets om die lyf, sal hiervan hou.  Die laaste snit, “Jy wys my”, is dalk nie heeltemal die treffer wat die ander snitte is nie, maarweer eens is dit ‘n snit wat by musiek-fynproewers byval sal vind.

Dis jammer dat daar net vyf snitte op hierdie album is, want dit is duidelik dat Alexander een van die beter nuwe kunstenaars is  wat onlangs  tot die musiekbedryf toegetree het.  Hierdie album is trouens een van die grootste verrassings wat die laaste tyd verskyn het en dit laat ‘n mens uitsien na ‘n volledige album.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.