Resensie: Ek en jy – Ernie Bates

Ernie-Bates

Ernie Bates. Foto: Facebook.

In vandag se musiekbedryf is daar baie kunstenaars wat deur hul platemaatskappye aangesê word om liedjies te sing wat deur liedjieskryfkomitees geskryf is. In sommige gevalle (gelukkig nie almal nie) bestaan daardie komitees uit mense wat hulself nog glad nie bewys het voordat hulle die maatskappye gestig het nie.

Daarom is dit altyd goed as ’n kunstenaar na vore kom wat verantwoordelik is vir die woorde en musiek van elke snit wat hy opneem. Anton Goosen, Coenie de Villiers en David Kramer het dit al verskeie kere gedoen, en nou is daar ’n nuwe sanger en liedjieskrywer op die toneel.

Ernie Bates het dalk nou eers sy debuutalbum uitgereik, maar hy was deel van die a capella-groep Overtone. Dina Eastwood, die vrou van die bekende akteur en rolprentregisseur Clint Eastwood, het Overtone in 2009 ontdek  en gevra hulle moet die meerderheid van die klankbaan opneem van die rolprent Invictus, met die 1995 Wêreldbeker-rugbytoernooi in Suid-Afrika as tema. Hierdie klankbaan is vir ’n Oscar-toekenning benoem.  As deel van die groep het hy ook al saam met internasionale kunstenaars soos Corinne Bailey Rae en One Republic opgetree.

Met hierdie soort agtergrond kan ’n mens reeds agterkom dat die opmerking op die omslag  – dat Ernie internasionale erkenning geniet het – nie sommer net bogpraatjies is nie. Die vraag is nou net of die album sy reputasie gestand doen.  Die eerste snit op die album,’’As iemand jou so liefhet’’, was al ’n baie groot treffer op verskeie radiostasies.  Hierin sing hy van die belangrikheid van liefde, en dit laat ’n mens dink.  ’’My keuse is net jy is’’ֹ nog ’n moontlike treffersnit.   ’’Deurmekaar seine’’ is ook ’nbaie goeie snit en nog een wat radiolugtyd verdien.

Ernie het al die intstrumente op die album self bespeel en die kitaarwerk op die titelsnit is besonder goed.  ’’Deel van jou’’ is seker een van die beste snitte op die album.

’’Jy weet jy wil’’ is een van die snitte wat al radiolugtyd gekry het.  Op ’’Jy’s my nommer een’’ wys hy dat hy nie net kan rock nie, maar ook rustige ballades kan sing. Veral sy klavierspel op hierdie snit is baie goed.  ’’She’s the greatest gift’’ is die enigste Engelse snit op die album en hopelik sal dit gehoor word op radiostasies wat nie Afrikaanse musiek speel nie.  ’’As jy wil’’ het ’n lekker dansritme en die banjo wat Ernie bespeel, klink lekker vrolik. As daar een snit wat ’n treffer behoort te word, is dit hierdie een! ’’Liefde van ’n pa’’ is die teenoorgestelde en hierop wys Ernie dat hy ook ernstig kan wees.

Hoewel Ernie met ’n baie goeie album vorendag gekom het, lê die probleem by die radiostasies en die algemene publiek wat nie in musiek met integriteit belangstel nie. Dis moeilik om te verstaan hoekom hulle nie genoeg kan kry van kunstenaars wat elke jaar ’n nuwe CD bekendstel en tog elke keer op dieselfde aambeeld bly hamer nie.  Daarom sal dit ’n jammerte wees as Ernie nie die erkenning kry wat hy verdien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.