Resensie: ‘Ek onthou’- Anders

Anders-ek-onthou

Lindi en Wynand Delport van Anders met hulle jongste album ‘#ek onthou’. Foto: Facebook.

Nadat hulle deel van een van ons land se voorste platemaatskappye was, het die sangpaar Anders, wat uit die egpaar Wynand en Lindi Delport bestaan, besluit om hul eie ding te doen.

Die eerste gevolg van hierdie besluit is hul jongste album, #Ek onthou, wat onlangs vrygestel is. Dié album is nie in ʼn konvensionele ateljee opgeneem nie, maar op ʼn plaas buite Potchefstroom. Benewens Wynand en Lindi, kan Rixi Roman en Jason Moser op onderskeidelik die baskitaar en tromme gehoor word.

Die meeste van die snitte op die album is deur Wynand en Lindi self geskryf, maar een uitsondering is die eerste snit, “Jou liefde”, ʼn komposisie van Wynand saam met Jason Moser. Dit is regtig ʼn uitstekende snit en dis maklik om te verstaan waarom dit die nuwe enkelsnit is. Die kitaarwerk is baie goed en dit sal veral by diegene wat van ʼn rock-klank hou, aanklank vind. Lindi sing gewoonlik voor saam met Wynand, maar op hierdie snit sing sy net in die agtergrond.

Wynand en Lindi het “Sou ek dit weer doen” saam geskryf en hierdie keer is dit Lindi wat voorsing. Dit is weereens  ʼn snit met trefferpotensiaal.  Op “Seisoene” gaan dit heelwat rustiger; Wynand se akoestiese kitaarwerk op hierdie snit is uitstekend. Die volgende twee snitte kom uit die gewilde rolprent Knysna, waarvoor Wynand en Lindi die musiek geskryf het. Die temaliedjie was ʼn groot treffer op verskeie radiostasies. “Ek het jou lief” kom ook op die klankbaan van dié rolprent voor en pas goed by die res van die album in.

Die titelsnit vertel die ware verhaal van hoe Wynand en Lindi mekaar op ʼn kerkkamp ontmoet en sommer dadelik geweet het dat hulle bymekaar hoort. Dit is die huidige enkelsnit en is reeds besig om ʼn groot treffer te word.

Wynand en Lindi se eersteling word binnekort gebore en daarom is dit nie ʼn verrassing dat hulle “Lullaby” vir  die nuweling geskryf het nie.  Anders doen egter hul naam gestand met hierdie snit;  dit is nie ʼn konvensionele wiegeliedjie nie en dis eintlik ʼn baie lekker snit om na te luister.

Die volgende snit is een van net twee wat nie heeltemal oorspronklik is nie. Wynand en Lindi het besluit om Kurt Darren se treffer “Hemel op Tafelberg” in ʼn akoestiese styl te sing en ʼn mens moet sê dit klink baie goed. “Verlang” is nog ʼn snit waarop hulle lekker rock en weereens is dit ʼn moontlike treffer.

Enigiemand wat al teleurgestel is deur ʼn geliefde, sal met die woorde van “Wat het jy gedoen?” kan identifiseer. Die laaste snit, “Where I stood”, is die enigste snit naas “Hemel op Tafelberg” wat nie heeltemal oorspronklik is nie. Dit maak egter nie saak nie; hulle klink ewe goed in Engels as in Afrikaans.

Dit gebeur nie gereeld dat ʼn mens ʼn album teëkom wat jy van voor tot agter kan deurluister en elke snit ewe veel geniet nie. Dit is juis wat Anders met hierdie nuwe album reggekry het. Dit is jammer dat dit net elf snitte bevat, maar aan die ander kant is dit beter om minder snitte van goeie gehalte op ʼn album in te sluit, as ʼn spul weggooisnitte wat net die album volmaak. Daar is geen twyfel dat Anders met een van vanjaar se heel beste albums vorendag gekom het nie; dit kan eenvoudig nie sterk genoeg aanbeveel word nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.