Resensie: ‘Ek reis na gister’ – Jak de Priester

Jak-de-Priester

Jak de Priester. Foto: Facebook.

Sedert hy in 2002 die ATKV se Crescendo-kompetisie gewen het, het Jak de Priester nie net weens sy musiek bekendheid verwerf nie, maar ook as aanbieder van die televisiereeks Reis na gister.

Daarom was dit seker onvermydelik dat hy die een of ander tyd ’n liedjie sou kon skryf wat as tema gebruik sou word. Jak se vorige album, Myne, myne, myne, was op kinders gemik, maar nou het hy besluit om weer iets vir sy volwasse aanhangers te gee om na uit te sien. Reis na gister is uiters gewild omdat enigiemand in ’n stadium verlang na sy of haar kinderdae en dit wil herleef. Met dié program kry bekendes die kans om dit te doen, en die temaliedjie verwoord hierdie begeerte baie goed. Die volgende snit, “Hier kom die somer”, kan byna vir seker ’n treffer word; dit is ’n lekker snit met ’n refrein wat jou sommer dadelik sal laat saamsing.

Daar is net een snit wat Jak nie alleen geskryf het nie. “Tot die dood ons skei” is die nuwe treffer, en Ewald Coleske het dit saam met hom geskryf. Dit sal dalk een van die gewildste liedjies wees wat op troues gespeel word. Laurika Rauch sing saam met Jak op “Lullaby vir Suid-Afrika”. Hier is nog ’n snit wat maklik ’n treffer kan word. “Eikelaan” is nog ’n baie goeie snit wat ’n treffer kan word.

Enigiemand wat al jare lank in ’n verhouding of ’n huwelik is, sal hom of haar met die woorde van “Ek lief jou al lank” kan identifiseer; dis net jammer dat al meer liriekskrywers die woord “lief” as werkwoord gebruik.

Jak dra “Gister nog 4” aan sy seuntjie, Jamie, op, en elke ouer sal mal wees daaroor omdat hy die verskillende lewensfases van die kind baie goed beskryf. Die volgende snit, “Lara”, sluit daarby aan; volgens Jak word dit aan Jamie se eerste liefde opgedra. “Ek sny dit af” word aan Mija, Jak se dogtertjie, se “eerste liefde” opgedra. Elke pa met ’n dogter sal van die woorde hou; miskien moet meer mans na die woorde luister!

“Bokkie, waar’s jou hart” het ’n lekker 1950’s-klank, en dit sal die dansvloere vol kry net soos wat “Roer jou voete” gedoen het. Hopelik sal dit ’n baie groot treffer word!

Die kitaarwerk op “My pappa ry ’n Chevrolet” is baie goed; die blues-klank op hierdie snit is iets besonders. Die liriek is ook lekker tong in die kies; ’n mens kan nogal daarvoor lag! “Jou grootste fan” is nog ’n baie goeie snit, en sy boodskap is dat ’n mens ’n groter aanhanger van jou man of vrou moet wees as van enigiets of enigiemand anders. Elkeen wat in ’n deeltitelkompleks of woonstel woon, sal hom of haar met die woorde van “Kompleksdrama” kan identifiseer, en die manier waarop hy al die mense beskryf, is heeltemal raak.

Charlize Berg het nog net een CD opgeneem, maar sy sing “Ek lewe vir nou” saam met Jak. Die liriek van “Lief en leed” laat ’n mens dink oor die lewe self en motiveer jou om die beste van jou lewe te maak. Op “Bloed en vlees” bring hy hulde aan sy pa, en weereens kan die meeste mense hulle daarmee identifiseer. “My lewe hier op aarde” is ’n selfondersoek-snit wat jou laat dink aan waaroor die lewe gaan. Dit behoort eintlik gereeld oor die radio gespeel word, maar dit sal byna vir seker nie gebeur nie.

Jak het weer met ’n uitstekende CD vorendag gekom. Nie net is daar snitte wat jou voete sal laat jeuk of jou sal laat lag nie, maar op ’n paar snitte laat Jak jou ook dink. Dis goed dat daar nog kunstenaars is wat in musikale integriteit glo en nie agter al wat modefoefie is, aanhardloop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petro Bezuicenhout ·

Ek geniet hierdie Priester se musiek.Hy is passievol en eerlik.Dit ontroer my in my binneste!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.