Resensie: Êrens in die middel van nêrens – Elvis Blue

Elvis-Blue

Elvis Blue. Foto: Argief.

Die afgelope tien jaar of wat was daar verskeie kunstenaars wat hul oorwinnings in Idols nie regtig gebruik het om suksesvolle musiekloopbane te skep nie.

Daar is wel twee uitsonderings wat nie net tot dusver uiters suksesvol was nie, maar wat ook nuwe rigtings in hul musiekloopbane ingeslaan het, naamlik Heinz Winckler en Elvis Blue. Elvis Blue het eintlik al tot die musiekbedryf toegetree voordat hy aan Idols deelgeneem het en twee Christelike albums onder sy eie naam, Jan Hoogendyk, uitgereik voordat hy onder sy huidige verhoognaam begin sing het.

Elvis se eerste Afrikaanse album, doodeenvoudig getiteld Afrikaans, was ‘n yslike sukses en het vier groot treffers opgelewer. Nou is hy terug met sy tweede Afrikaanse album, Êrens in die middel van nêrens, en dit lyk of hy weer ’n wenner het. Die eerste snit op die album gee ’n mens reeds ’n idee wat om te wagte te wees.

Elvis is een van die min kunstenaars wat sy eie musiek skryf en komponeer. ’’Môre kan maar kom’’ is ’n uitstekende oorspronklike komposisie wat meer om die lyf het as die meeste kommersiële Afrikaanse musiek. Die volgende snit is die eerste enkelsnit, ’’Die hemel’’. Dit moet as een van die heel beste Afrikaanse liedjies van die jaar beskou word.  ’’Al wat ek weet’’ is nog ’n uitstekende snit met die boodskap dat ’n mens dalk nie alles weet nie, maar dat net liefde regtig saakmaak.

’’Langs jou’’ is nog ’n baie goeie snit en weer is sy boodskap dat twee beter as een is. ’’Huis vir my hart’’ is ’n snit wat radiolugtyd verdien en is dalk een van die beste snitte op die album.  In ’’Skepe’’ word ’n goeie storie vertel, maar dit is doodeenvoudig té lank om radiolugtyd te kry. Dit is ’n groot jammerte.

Die volgende snit is eenvoudig getiteld ’’Sy’’ en ’n mens wonder of dit nie dalk aan een van Elvis se twee dogtertjies opgedra is nie. Die titelsnit is beslis treffermateriaal omdat enigiemand met die woorde kan identifiseer – ons was almal al op ’n plek waar ons nie geweet het watter kant toe nie. Soos wat die son ’n mens motiveer om steeds positief te bly, ongeag jou omstandighede.

’’Die tafel’’ is nog ’n moontlike treffer en hierin sê hy dat ’n mens probleme kan oplos deur dit uit te praat. Die laaste snit, ’’Dagbreek’’ is effens lank en dalk nie heeltemal geskik vir radiolugtyd nie, maar dit beteken nie dat dit nie ’n goeie snit is nie.

Daar was al te veel wenners van talentkompetisies wat na kitsroem op soek was, maar wie se loopbane kortstondig was en van wie ons nie weer sal hoor nie. Elvis Blue val baie beslis nie in hierdie kategorie nie. Hy is ’n bewys dat jy gewild kan wees sonder om musikale integriteit prys te gee. Hy het trouens vorendag gekom met een van die heel beste Afrikaanse albums tot dusver vanjaar en ’n mens sal nog daarna kan luister lank nadat jy al vergeet het van sommige van die kommersiële gemors wat jy heeldag oor die radio hoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae