Resensie: Francois van Coke se solo-album

Francois-van-Coke-solo

Francois van Coke. Foto: Verskaf.

In 2003 het die Suid-Afrikaanse publiek vir die eerste keer kennis geneem van Francois van Coke toe hy saam met onder andere Wynand Myburgh, Hunter Kennedy en Johnny de Ridder die omstrede groep Fokofpolisiekar gestig het.

Intussen was hy ook deel van  Van Coke Kartel, wat hy in 2007 gestig het en al vyf albums uitgereik het. Nou het hy egter besluit om ’n solo-loopbaan te volg en dié, Francois van Coke, is onlangs uitgereik.

Die eerste snit, “Behoort aan niemand nie”, is soos feitlik al die ander snitte sy eie komposisie. “Moontlik nooit” was die eerste snit op die album wat na radiostasies gestuur is, maar weens die uitreiking van nog ’n enkelsnit, waarby ek later sal kom, het dit nog nie eintlik ’n treffer geword nie.

Laudo Liebenberg van die groep aKing sing saam met hom op “Die skip”, wat hy ook saam met Francois geskryf het. Hunter Kennedy het “Hulle sê” saam met Francois geskryf. Weens die gevloek op hierdie snit is daar ’n waarskuwingsplakker op die omslag. Op “Waar daar ’n wil is” wys Francois dat hy wéét hoe om behoorlik te rock. “By die huis” is effens rustiger en dalk een van die meer radiovriendelike snitte op die album.

Op “Ek weet nie” sing die Springbok Nude Girls se hoofsanger, Arno Carstens, saam met hom. Arno kan gerus meer gereeld in Afrikaans sing. Die lirieke van “Waarheid, weg en lewe” is eintlik ironies, aangesien Francois in ’n pastorie grootgeword het.

Die Heuwels Fantasties se jongste album is onlangs uitgereik, en hulle sing saam met hom op “Neonlig”, wat Hunter Kennedy saam met hom geskryf het.

Die volgende snit is die groot treffer, “Toe vind ek jou”. Hoewel Van Coke en Karen Zoid as twee van die “rebelle” van plaaslike musiek  beskou kan word, werk hierdie kombinasie baie goed, want dit is gewis een van die grootste Afrikaanse treffers tot dusver vanjaar. “Maanskyn en rose” is ’n pragtige snit wat deur sommige as ’n “weggooisnit” beskou sal word, maar eintlik op ’n breë gehoor gemik is.

Francois se debuut-soloalbum kan as ’n sukses beskou word. Dit is hoog op die amptelike trefferlys gegrond op werklike albumverkope. Dit is egter net die helfte van die storie. Francois het sy aanhangers tevrede gestel met hierdie album, maar die kragwoorde op sommige snitte maak dat jy hierdie album nie sommer in enige geselskap kan speel nie. Jy moet maar eers doodseker maak of jy daarmee kan saamleef voordat jy besluit of jy dit gaan koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.