Resensie: ‘Genoeg is genoeg’ deur Joe Niemand

‘n Video volg onderaan die resensie. Dit is seker al meer as tien jaar sedert Joe Niemand die ATKV se Crescendo-kompetisie saam met Jaco du Plessis (deesdae bekend as Jay) as Joe en Jaco gewen het.

Hulle het net een album opgeneem, voordat elkeen sy eie rigting ingeslaan het. Jay het deel van Eden geword, terwyl Joe die groep Niemand begin het. Later het hy by Angus Buchan se Mighty Men-konferensies betrokk geraak en hom op Christelike musiek begin toespits. Sy tweede Afrikaanse Christelike album, Genoeg is genoeg, is pas vrygestel.

Die eerste snit, Die lig in ons, is sy eie komposisie, soos die res van die album. Hierin sê hy dat Christene die lig vir die wêreld moet wees. Lewe voor ons doodgaan motiveer ‘n mens om voluit te lewe en die beste van die lewe te maak. Die titelsnit is reeds ‘n treffer, en ‘n mens kan verstaan hoekom. Dit het tyd geword dat iemand standpunt inneem teen die snert wat in ons samelewing aangaan, en Joe het die moed gehad om dit te doen. Dalk sal dit ‘n groter treffer word as die titelsnit van sy vorige album, Ek sal nie bang wees nie.

Daar is een snit op die album wat nie noodwendig ‘n direk Christelike boodskap het nie, maar Ek is lief vir jou is ‘n pragtige snit wat hy vir sy vrou geskryf het. Die meer “konserwatiewe” luisteraars sal dalk ‘n bietjie wonder oor die volgende snit. My dans is ‘n dankie is ‘n manier waarop Joe vir die Here dankie sê vir alles wat Hy vir hom doen, maar daar is sekerlik nog diegene wat dink dat dans sonde is. Ek is vry herinner ‘n bietjie aan Leon Ferreira se treffer My pa is die Koning, en die boodskap wat Joe hier uitdra, is dat die Here ‘n mens vry maak van sonde. Jy kamma hardloop is nog ‘n liedjie wat hy vir sy vrou geskryf het, en hopelik sal dit ook ‘n treffer word.

Enigiemand wat al besluit het om te emigreer en na Suid-Afrika verlang, sal hulle kan identifiseer met die woorde van Ek mis jou Suid-Afrika. Miskien sal dit diegene wat dit nog nie gedoen het nie maar nog wil, van hul planne laat afsien. In Ek sal bly staan sing hy van geloof wat vas staan te midde van terugslae en beproewings. Om my weg te hou is die derde liefdesliedjie op dié album wat weer eens ‘n treffer kan word. Waar U is is ‘n pragtige aanbiddingslied, en die feit dat dit dalk nie treffermateriaal is nie, maak regtig nie saak nie. Dit is ‘n baie goeie snit, maar ‘n mens weet nie of dit oor die radio gespeel sal word nie.

Daar is al baie gepraat oor watter musiek werklik tot eer van die Here is; is ‘n opregte hart genoeg, of moet die musikale verwerking van ‘n Christelike album van hoogstaande gehalte wees? Na my mening is albei belangrik. Jou hart kan dalk opreg wees, maar as jy nie met ‘n gehalteproduk vorendag kom nie, mors jy jou talent. Aan die ander kant help dit nie dat jy met ‘n uitstekende album vorendag kom terwyl jou lewe nie die boodskap wat jy uitdra, weerspieël nie. In Joe se geval kry ‘n mens iets van albei. Daar is geen rede om die integriteit van sy boodskap te betwyfel nie, en dis goed dat hy soms reguit praat. Joe is egter ook ‘n uitstekende liedjieskrywer en musikant, en die verwerkings op hierdie album is puik. Hierdie album is werklik tot eer van die Here, en enige Christen-musiekliefhebber behoort dit deel van hul versameling te maak!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.