Resensie: ‘GI Jane’ – Lemé

Leme-GI-Jane

Lemé se jongste album ‘GI Jane’ is onlangs beskikbaar gestel. Foto: Verskaf.

In 2010 het die Suid-Afrikaanse musiekbedryf kennis geneem van Lemé toe haar debuutalbum met die gepaste titel Eerste tree uitgereik is.

Die groot treffer van hierdie album was “Voel hoe klop my hart” en die musiekvideo van hierdie snit is meer as 60 000 keer op YouTube gekyk. Kort daarna is dié album heruitgereik met ʼn paar bonussnitte. Die titelsnit van hierdie album, “Woordeloos” was weer eens ʼn groot treffer. Daarna was sy lank stil en musiekliefhebbers het sekerlik gewonder wanneer sy weer ʼn CD sou uitreik.

Die goeie nuus is dat sy eindelik die stilte verbreek het en pas haar derde CD, GI Jane, bekendgestel het. Soos voorheen het haar ma, Elsje, al die oorspronklike liedjies geskryf, maar hierdie keer is daar een groot verskil: niemand anders nie as Byron Kuntz was die regisseur van die album.

Die album begin met ʼn skitterende instrumentele inleiding en ʼn mens kan sommer dadelik hoor dat daar iets besonders vir die luisteraar wag. Die volgende snit, “Afrikaner groot”, is nog ʼn hoogtepunt. Dis ʼn snit waarin sê sy dat sy trots is om Afrikaans te wees. Die musiekvideo van die titelsnit is ongelukkig nog nie vervaardig nie, maar sal binnekort beskikbaar wees. Hoe ook al, die album het ʼn effense militêre sentrale tema wat ook op die CD-omslag sigbaar is, en ʼn mens kan dit in die titelsnit hoor. Dalk was die gelyknamige rolprent met Demi Moore in die hoofrol die inspirasie agter hierdie snit. Hoe ook al, dit gaan ʼn groot treffer word.

Daar is een snit wat Lemé baie na aan die hart lê: “Vaderlandsliefde”, omdat sy openhartig vertel van die gewapende rooftog waarvan sy twee jaar gelede ʼn slagoffer was. Ondanks hierdie traumatiese gebeurtenis dra sy steeds ʼn positiewe boodskap oor, en daarvoor behoort ʼn mens die wêreld se respek vir haar te hê.

“M.I.A.” (dit staan vir Missing in Action) kan ʼn treffer word as gevolg van die lekker ritme, die kitaarwerk wat maak dat jy die volume tot verby sy maksimum wil draai en die uiters slim lirieke.

“Ek gee oor” is nog ʼn moontlike treffer, hierdie keer as gevolg van ʼn aansteeklike refrein. “Liefdeskreet” is een van die snitte waarop die rock-klank van die album nie so sterk na vore kom nie.

“Afrika-grond” pas ook goed by die tema van die album in. Dis ʼn snit waarin sy weer eens sing van die liefde wat sy vir ons land het.

In “Met die krag in my stem” sing sy van die frustrasie wat ʼn mens soms voel wanneer jy vir iemand wil sê dat jy hom of haar liefhet, maar die persoon nie die boodskap kry nie. “Soeklig” is nog ʼn hoogtepunt van die album en Byron se stempel is duidelik.

Daar is net twee snitte wat nie oorspronklike komposisies is nie, en dié twee volg op mekaar. “Walking in Memphis” was Marc Cohn se enigste groot treffer, maar met haar CD-bekendstelling het Lemé na Cher se weergawe verwys. Omdat die liedjie so oud soos sy self is, kan ʼn mens haar vergewe. Lemé se weergawe klink in elk geval baie goed.

Die volgende snit bestaan uit rock-liedjies van die 1980’s en 1990’s, en hier kan ʼn mens agterkom na watter soort musiek sy luister. Die keurspel bestaan uit drie liedjies van Bryan Adams: “The only Thing that Looks Good on Me”, “18 ‘til I Die” en sy reuse-treffer “Everything I Do (I Do it for You)”, asook “If I Could Turn Back Time” van Cher, “You Give Love a Bad Name” van Bon Jovi en die groot verrassing, “You Shook Me All Night Long” van AC/DC.

Toe ek die laaste snit, “Ek en Jack”, die eerste keer hoor, het dit my dadelik aan “Midnight Special” van Creedence Clearwater Revival herinner. Sy sing hier van niks anders as Jack Daniels-whisky nie. Hierdie snit gaan ʼn groot treffer word en dis jammer dat dit aan die einde van die CD voorkom.

Een kenmerk van vanjaar se nuwe Afrikaanse CD’s is die aantal goeie albums wat deur vrouekunstenaars uitgereik is, veral deur Leah, Andriëtte, Nadine (wie se CD eintlik ʼn jaar gelede verskyn het, maar vanjaar eers treffers opgelewer het) en Cordelia. Hierdie nuwe album van Lemé is nog een wat by daardie lys gevoeg kan word. Dis nie net die oorspronklike en eerlike lirieke wat iets besonders is nie, maar dieselfde kan ook van die produksie en musiekverwerkings gesê word.

Met hierdie album kan ʼn mens sien dat daar waarde in is om lank te wag voordat jy ʼn nuwe CD uitreik en seker te maak dat jy die beste moontlike produk op die mark bring. Hierdie CD is beslis Lemé se beste tot dusver. Kry dit sommer dadelik in die hande en speel dit kliphard!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae