Resensie: Gospel Skouspel 2014

gospel_skouspel-2014-DVD

Gospel Skouspel 2014 se DVD is onlangs bekendgestel. Foto: Verskaf.

Die afgelope paar jaar het Gospel Skouspel een van die grootste gebeurtenisse op die Suid-Afrikaanse musiektoneel geword en in 2014 is dié geleentheid ook vir die eerste keer in Pretoria aangebied.Dit het ‘n rukkie geduur, maar die DVD van 2014 se Gospel Skouspel, wat in Kaapstad verfilm is, is uiteindelik beskikbaar.

Die eerste snit op die DVD is “Hoe groot is ons God”, die Afrikaanse weergawe van Chris Tomlin se pragtige aanbiddingslied “How great is our God”. Dit is een van die beter Afrikaanse weergawes van ‘n oorsese lied wat tot dusver verskyn het en dit word blykbaar deur verskeie denominasies tydens eredienste gesing.

Joe Niemand is al jare lank in die musiekbedryf en die afgelope tyd het hy hom hoofsaaklik op Christelike musiek toegespits, hoewel hy ook onlangs ‘n beoordelaar in die Afri-Visie-kompetisie was. Sy eerste bydrae is “My dans is ‘n dankie”, wat hy self geskryf het.

Elvis Blue was ‘n paar jaar gelede die wenner van die Idols-kompetisie, maar hy het ook al twee Christelike albums onder sy eie naam, Jan Hoogendyk, vrygestel. “Spore” was een van die treffers vanaf sy album Afrikaans.

Adam Barnard was een van die lede van die groep Romanz, maar hy het verlede jaar groot sukses met sy eerste solo-album Ruk my tot stilstand behaal. Die treffersnit vanaf hierdie album was “Hy is” en die SA Jeurgkoor sing dit hier saam met hom.

Louis Brittz en Retief Burger het “In verwondering in die Karoo” geskryf en hulle sing dit ook saam. Dit is seker een van die mooiste Christelike liedere wat die afgelope paar jaar verskyn het. Louis het ook al twee CD’s vrygestel waarop hy nuwe berymings van Psalms opgeneem het. Hy sing “Psalm 150” op die DVD en die gehoor sing saam met hom.

Die nuweling Suné Botha het “Ek slaan my oë op” na aanleiding van Psalm 121 geskryf en dit word deur Andriëtte Norman gesing. Andriëtte is een van ons land se voorste kunstenaars en dis goed om ook ‘n ander kant van haar te hoor.

Riana Nel het aanvanklik niks anders as Christelike musiek gesing nie en sy sing die volgende twee snitte, William Warren se komposisie “How outrageous” en “Time” wat sy self geskryf het.

Retief Burger is een van ons land se voorste lof-en-aanbiddingskunstenaars en op “Heilige Here” kan ‘n mens hoor waarom. Hy weet hoe om ‘n gehoor op hul voete te kry en die Here saam te loof.

Elvis Blue se tweede bydrae tot Gospel Skouspel 2014 was sy eie komposisie Come alive” en hierop wys hy dat hy ewe gemaklik Christelike- as kommersiële musiek kan sing.

Neville D is een van twee Kaapse kunstenaars wat tydens hierdie vertoning te sien was en sy eerste bydrae is “Me without you”, wat ook ‘n treffer vir Toby Mac was.

Chris Chameleon het omtrent twee jaar gelede die album Herleef vrygestel en hier sing hy sy eie weergawes van bekende Psalms en Gesange. Die eerste een op hierdie DVD is “Gesang 36”, wat ook as die “Landpsalm” bekendstaan. Juanita du Plessis, Joe Niemand, Retief Burger en Neville D sing dit saam met hom. Dis jammer dat hierdie lied nie méér bekend is nie. Chris kan minstens vier oktawe sing, en ‘n mens staan verstom as jy hoor watter note hy kan bykom.

Neville D sing die volgende snit “Every praise” saam met nog ‘n Kaapse kunstenaar, Rouchelle Liedeman.  “Koning van die eeue” is nog ‘n lekker  snit van Retief Burger wat die hele gehoor aan die sing gekry het. Rouchelle en Neville sing saam op die volgende snit “Power in your Name, wat Neville help skryf het.

“Hope is alive” is ‘n baie goeie snit waarop die SA Jeugkoor saam met Rouchelle sing.  “Die uitnemendheid” is Chris Chameleon se weergawe van die bekende 1 Korintiërs 13.

Juanita du Plessis het al drie Christelike albums vrygestel, maar “Opstaan” is ‘n kommersiële snit met ‘n inspirerende boodskap. “Sweef soos ‘n arend” is in die verlede al soveel kere opgeneem dat dit holrug gery is, maar Andriëtte se weergawe saam met die SA Jeugkoor is baie goed.

Joe Niemand het verlede jaar die Engelse album Back again vrygestel en die titelsnit, asook die volgende snit “In the stillness” is werklik iets besonders. “As Hy weer kom” is nie die bekende kerklied nie, maar ‘n liedjie wat Louis Brittz meer as twintig jaar gelede geskryf en op sy debuutalbum ingesluit het. Dis goed om te sien dat Louis ‘n skerp humorsin het, soos wat ‘n mens duidelik hier kan hoor!

Een van die hoogtepunte op die DVD is Retief Burger se skitterende weergawe van Matt Redman se pragtige aanbiddingslied “10 000 reasons”.  Elvis Blue se deurbraak in Afrikaans was “Rede om te glo”, wat baie goed by ‘n vertoning soos hierdie een inpas.

“U is die lig” is ‘n bewys dat ook Riana Nel ewe tuis in Christelike- as kommersiële musiek is.  Nog ‘n snit van Juanita du Plessis wat dalk nie op een van haar Christelike albums voorkom nie, maar tog hier inpas, is “Glo, hoop, droom” wat sy self geskryf het. Die laaste snit wat deel was van die vertoning is die bekende “Jesus groot bo almal”, wat deur al die kunstenaars gesing word. As ‘n bonussnit, is ‘n weergawe van “Every praise”, waarop al die kunstenaars sing, ingesluit.

Ek was gelukkig genoeg om die vertoning in Pretoria by te woon en daarom was dit lekker om na die DVD te kyk en die konsert te herleef. Vir diegene wat nie so gelukkig was nie, is dit egter ook die moeite werd, want hulle kan sien wat hulle misgeloop het en dalk kry hulle die geleentheid om vanjaar se konsert by te woon.

Dis net jammer dat ware Christelike kunstenaars soos Jan de Wet, Pit Smit en Willie Joubert in hul afwesigheid geskitter het. Hoe dit ookal sy, dit was ‘n uitstekende vertoning waarna ‘n mens meer as een keer sal wil kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.