Resensie: ‘Hantam tydloos’ – Klipwerf Orkes

Klipwerf-Orkes-Hantam-tydloos

Klipwerf Orkes se jongste album ‘Hantam tydloos’. Foto: Klipwerf.co.za

Sedert die Klipwerf Orkes in 1969 tot stand gekom het, het dié orkes hom gevestig as seker die suksesvolste orkes in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Klipwerf se 29ste album, Hantam tydloos, is onlangs uitgereik en dié album bevat bekende plaaslike én internasionale snitte asook ʼn aantal nuutskeppings.

Die eerste snit is Shakin’ Stevens se groot treffer “Oh Julie”.

“Happy ou Anna” is ʼn tradisionele komposisie wat deur die enigste oorblywende stigterslid, Kobus Visagie, vir die album verwerk is.

“Kliprand se dinge”, ʼn komposisie van Willie Burger, is die eerste nuutskepping op die album. Burger is die kitaarspeler van die orkes.

“Ellie Swartjan se wals” is ʼn tradisionele Boeremusiek-komposisie wat Gené van Niekerk, een van die twee klawerbordspelers in die orkes, vars vir die album verwerk het.

Die album sluit ʼn hele paar verrassings in. Een daarvan is Waldo Lotz se lekker komposisie “Die Paarl is ʼn wonderlike plek”, wat ongelukkig nie die treffer was wat dit moes wees nie. Daarom is dit dalk sinvol dat dit nou ingesluit is.

As die naam Heidi sien, dink jy dadelik aan die temaliedjie van die gewilde televisiereeks. “Heidi”, die snit op die album, is egter ʼn komposisie van Michael Lindt.

“Erdman-seties” is ʼn oorspronklike komposisie van Kobus Visagie en een van die beste snitte op die album. Nog ʼn nuwe snit is “Tronkvoël-vastrap” wat deur Gené van Niekerk gekomponeer is.

Nóg een van die internasionale snitte op die album is Bert Kaempfert se bekende komposisie “Spanish Eyes”, wat as ʼn tango gespeel word.

Die album se huidige enkelsnit is ’n weergawe van “Die padda wou gaan opsit”, wat dalk net effens lank is.

Nog ʼn internasionale treffer wat ingesluit is, is “Have You Ever Seen the Rain”, wat deur Creedence Clearwater Revival bekend gemaak is.

As jy van die Kaap kom, skree jy net vir een rugbyspan: Westelike Provinsie. Daarom is dit geen verrassing nie dat Klipwerf besluit het om Leon Schuster se treffer “Province” in te sluit nie. “Weskus-kwêla” is nog ʼn lekker snit, en dalk een van die bestes op die album.

Die lekkerste is egter vir laaste gelaat. “Dans met my” het ontstaan uit die televisieprogram Jam Sandwich wat op SABC 2 uitgesaai is. Jack Parow het die woorde geskryf en Klipwerf het die musiek gekomponeer. Noudat dit meer geredelik beskikbaar is, hoop ʼn mens dat dié nommer van voor af, of dalk vir die eerste keer, ʼn groot treffer kan word. Dit was ʼn nuwe rigting vir Parow én Klipwerf en dit sal wonderlik wees as hulle weer so iets saam kan doen.

Hoewel Klipwerf al heelwat kritiek moes verduur omdat sy musiek nie as Boeremusiek beskou kan word nie weens die gebrek aan ʼn konsertina of ʼn trekklavier, het die orkes met hierdie album bewys dat hy nie verniet die suksesvolste orkes in die land is nie. Natuurlik sal gereelde aanhangers hierdie album geniet, maar miskien moet dié wat Klipwerf se musiek nie so goed ken nie, ʼn plan maak om na hierdie album te luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.