Resensie: Hartklank – Joe Foster

Joe-Foster-Hartklank

Joe Foster se nuwe album Hartklank. Foto: Facebook.

Nadat die suksesvolle Afrikaanse sanggroep Adam twee albums opgeneem het, het een van die stigterslede, Joe Foster, besluit om weg te breek en ’n sololoopbaan te begin.

Nadat hy die temaliedjie van die trefferrolprent Pad na jou hart geskryf en gesing het, is sy eerste solo-album, Hartklank, eindelik vrygestel en die vraag is of hy net so suksesvol as solokunstenaar sal wees as wat hy was toe hy deel van Adam was.

Die eerste snit op die album is die eerste enkelsnit, “Mona Lisa”. Dit is ’n mooi snit, maar dalk ’n eienaardige keuse vir ’n eerste treffer. Die titelsnit is ook een van Joe se eie komposisies, en dit behoort ook een van die treffers te wees. Johan C. Venter en Ewald Coleske het ‘n bydrae op “Vir my gemaak” gelewer, en dit is dalk een van die beste snitte op die album. “In die reën vir jou” is nog ’n goeie snit wat Joe self geskryf het. “Hoendervleis” is ook een van Joe se eie komposisies, maar dit is dalk nie heeltemal treffermateriaal nie. Arnold Coleske het ‘n bydrae op die liedjie “Woorde” gelewer; weer eens is dit ’n baie goeie snit. “Voel jy my hartklop” is ’n baie mooi snit, hoewel nie almal noodwendig van die sensuele liriek sal hou nie. Juan Floors Oosthuizen se kitaarwerk op “Ridder” is baie goed, en daarby is die woorde baie realisties. Daarom behoort dit ’n treffer te word.

Hierdie album sou nie volledig gewees het as “Pad na jou hart” nie daarop was nie. Dit was tot dusver ’n moeilike snit om in die hande te kry, en omdat dit so ’n gewilde liedjie was, en steeds is, sal baie mense hierdie CD koop net om dit in die hande te kry. “Antwoord my” is nog ’n goeie snit wat Joe self geskryf het. “Bly nog net so bietjie” was ook al ’n treffer nog voordat die album vrygestel is, en dis goed dat dit ingesluit is. Die liriek van “Opstaan” is inspirerend, en hoewel die musikale verwerking eintlik heel eenvoudig is, is dit nie ’n weggooisnit nie, maar dalk een wat radiolugtyd sal kry.

Daar is sekerlik baie mense wat met groot verwagting uitgesien het na Joe se soloalbum, veral weens sy sukses as deel van Adam en die gewildheid van “Pad na jou hart”. Hulle sal beslis nie teleurgesteld wees nie, want Joe is ’n uiters talentvolle en veelsydige sanger en liedjieskrywer wat nie noodwendig al wat modegier is, navolg nie, en tog vorendag gekom het met musiek van goeie gehalte wat toeganklik is vir ’n groot gehoor. Hierdie album kan sterk aanbeveel word en behoort nog heelwat treffers op te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.