Resensie: ‘Heilig is u Naam’ – Belinda Bönner en vriende

heilig-is-u-naam

Foto: Verskaf.

Die afgelope paar jaar is Liza Bönner een van ons land se voorste Afrikaanse kunstenaars. Daar is egter min mense wat weet dat haar ma, Belinda, ’n aantal van Liza se liedjies geskryf het en self ook kan sing.

Belinda en ’n paar vriendinne, onder andere Lindie Strydom, Mandi Baard en  Angela Reed, asook Liza, het egter nou saamgespan en die album Heilig is U Naam opgeneem.

Belinda het die meeste snitte op die album self geskryf, onder meer die eerste snit, “Meer as genoeg”, waarin Lindie saam met haar sing. Op “Naam bo elke Naam” sing Mandi Baard saam met haar.

Mandi is getroud met Schalk Baard, lid van die a cappella-groep Navi Redd. Ma en dogter span saam in “Jesus, Seun van God”, een van net drie snitte wat Belinda nie gekomponeer het nie, maar waarvoor sy die Afrikaanse woorde geskryf het.

Die volgende snit is die eerste enkelsnit van die album, naamlik “Gebed vir ons land”, waarin almal saam met haar sing. Dit is ’n pragtige snit wat nie net enige trefferslys eer sal aandoen nie, maar ook gerus deur gemeentes van alle denominasies aangeleer kan word. Daar is ook ’n paar reëls van “Die Stem” ingesluit, maar hierdie keer is daar geen politieke konnotasies ter sprake nie. Hierdie lied sal mense gou laat saamsing, want die liriek is glad nie moeilik om aan te leer nie.

“U Majesteit” is nog ’n snit waarvoor Belinda die Afrikaanse liriek geskryf het, en sy sing dit alleen. Met lydenstyd wat tans herdenk word, is “U is waardig” ’n baie gepaste snit. Angelique Bouwer sing hier saam met Belinda, en dit is dalk een van die beste snitte op die album. Belinda het ’n beryming van Psalm 24 gedoen, en die kitaarwerk van hierdie snit is besonder goed.

Nog ’n snit waarvan die kitaarwerk baie goed is, is “Troon van genade”, waarin Erika Raubenheimer en die koor saam met haar sing. Die musiekverwerking herinner ’n bietjie aan dié van Bryan Adams se treffer, “Have you ever really loved a woman?”, maar dit is waar die ooreenkoms ophou. Interessant genoeg, bestaan die hele liedjie net uit twee kitaardrukke. Hoe ook al, dit is ’n pragtige snit.

Die bekende “Onse Vader” is die volgende snit op die album, en die musikale verwerking is uitstekend. Daar is egter ’n deel bygeskryf, maar dit maak nie saak nie. Dit sal hierdie bekende snit eerder meer toeganklik vir ’n jonger gehoor maak. Hierdie snit kan gerus ook deur gemeentes aangeleer word. Angela Reed en die koor sing saam met Belinda in “Tot in ewigheid”. Die laaste snit op die album is die oorspronklike weergawe van “U Majesteit”, naamlik “Your Majesty”.

Belinda en haar vriendinne het werklik met ’n pragtige album vorendag gekom. Daar is ’n hele aantal snitte hierop wat nie net geskik is vir radiolugtyd nie, maar ook maklik is om te sing en in gemeentes van alle denominasies sal inpas. Daarom kan dit baie sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.