[Resensie] Henry van Dyk – ‘Sommer so’

henry-van-dyk

Henry van Dyk. Foto: Henryvandyk.co.za

Deur die jare was daar al ’n aantal tenore wat groot sukses op die Afrikaanse musiektoneel behaal het, onder andere Gé Korsten, Gert Potgieter, Manuel Escorcio en Jannie Moolman.

Henry van Dyk het onlangs sy tweede CD, Sommer so, vrygestel, en die vraag is of hy met hierdie groot name sal kan saamgesels. Die eerste snit, “My hart se wens”, is sy eie komposisie, en dit wys dat hy nie net ’n goeie stem het nie, maar ook weet hoe om liedjies te skryf.

Arri Opperman het veral die afgelope tyd sukses behaal met ’n paar liedjies wat hy vir Touch of Class geskryf het, onder meer “Dans in die reën” en hul huidige treffer, “Ek steek my hand op”. Sy bydrae tot dié album is “Dis wat ware liefde maak”, en hierop bewys hy sy veelsydigheid as liedjieskrywer.

Die titelsnit is ’n komposisie van nog ’n ervare en suksesvolle liedjieskrywer, naamlik Johan Oberholzer. “Lied vir Ma” is ’n baie mooi snit wat Henry self geskryf het. “Ek hou van jou” is nog ’n komposisie van Johan Oberholzer, en dit is een van die moontlike treffers vanaf die album.

“Kom terug” was een van André Schwartz se grootste treffers en die titelsnit van een van sy suksesvolste albums. Henry sing dit saam met Werner Breytenbach. Hul weergawe is net so goed soos die oorspronklike een.

“Ek sal by jou staan” is nog ’n snit wat ’n treffer kan word; weer eens is dit Henry se eie komposisie. “Maak my heel” is nog ’n snit wat hy self geskryf het, maar dit is iets heeltemal anders. Dit is ’n gebed tot die Here waarin hy vra dat God hom te midde van gebrokenheid sal genees.

“Léssenziale” is ’n Europese wysie waarvoor daar Afrikaanse woorde geskryf is, maar dit word in Afrikaans en Italiaans gesing. “The story” was ’n groot treffer vir Brandi Carlile; dit pas baie goed by Henry se stem en sy weergawe is trouens baie goed.

“In a moment like this” kom uit die Eurovision-liedjiekompetisie, en Jay en Lianie het dit in Engels opgeneem en ’n groot treffer daarmee gehad. Henry sing dit saam met Dina Garipova; hulle sing in Afrikaans, Russies en Engels. Dit sou dalk beter gewees het as dit net in een taal gesing kon word. Hoe ook al, dit bly ’n baie goeie liedjie.

“Angel child” is nog ’n snit waarvoor Henry die woorde geskryf het. Die laaste snit op die album is ’n baie goeie weergawe van “Die Onse Vader”. Dis goed dat Henry dit met meer kontemporêre begeleiding sing, eerder as ’n orrel. Dit is een van die hoogtepunte van die hele album.

Henry bewys op hierdie album dat hy ’n uiters talentvolle kunstenaar is en dat hy dit nog baie ver kan bring. As jy van ’n goeie tenoorstem hou, maar nie noodwendig net na musiek met ’n klassieke aanslag wil luister nie, kan jy dit oorweeg om hierdie album by jou versameling te voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Denise ·

Ek het nog nooit van hom gehoor nie sal maar eers moet luister ek hou maar van my country musiek !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.