Resensie: ‘Hoofletters’ – Sorina

Sorina-Hoofletters

Sorina Erasmus. Foto: Facebook.

Dit gebeur selde dat ʼn kunstenaar bekendheid verwerf in een televisierol en dan later ʼn suksesvolle sangloopbaan volg.

Een kunstenaar wat dit reggekry het, is Sorina, wat amper volksbesit geword het weens haar rol as die Flooze in 7de Laan. Sedertdien het sy twee albums vrygestel, waarop sy albei kante van haar persoonlikheid gewys het. Nou is sy egter terug met haar eerste album waarop sy bloot Sorina is en waarop daar geen teken van die Flooze is nie.

Die titelsnit, “Hoofletters” was die afgelope tyd ʼn groot treffer op byna alle radiostasies en in die musiekvideo maak sy ʼn belangrike aankondiging oor haar persoonlike lewe. ʼn Mens moet egter tot aan die einde van die video kyk om vas te stel wat dit is. Die volgende snit, “Met of sonder jou”, is ʼn komposisie van Johan Oberholzer en die lae register waarin sy op hierdie snit sing, klink baie goed.

“Deure” is die nuwe treffersnit van die album en is nog ʼn komposisie van Johan Oberholzer. Dit gaan oor die keuses wat ʼn mens in die lewe maak. “Soen my” is ʼn pragtige snit wat Sorina self geskryf het. Sorina is ʼn baie uitgesproke Christen en “Skyn”, wat sy ook self geskryf het, sal enigiemand wat moed opgegee het, motiveer om weer die lewe in die oë te kyk. Hierdie snit het só ʼn sterk boodskap dat dit een van die treffersnitte vanaf die album móét wees.

In “My hartland” sing Sorina van die probleme in ons land, maar haar boodskap is sy sal Suid-Afrika nie verlaat nie. Nogtans is dit nie ʼn liedjie met ʼn sterk politieke boodskap nie, maar weereens ʼn snit met ʼn sterk boodskap wat gereelde radiolugtyd behoort te kry.

Op hierdie album het Sorina vir die eerste keer ʼn Christelike liedjie opgeneem. “Juig” is natuurlik gebaseer op Psalm 100 en dit kan ook maklik deur gemeentes van alle denominasies aangeleer word.

Sorina en haar man, Braam Riekert, het twee kinders en sy het “Welkom in ons wêreld” geskryf toe haar seuntjie, haar oudste, gebore is. Baie kunstenaars het al Koos du Plessis se “Gebed” opgeneem, maar Sorina se weergawe is dalk een van die mooistes tot dusver. Een punt van kritiek wat egter genoem moet word en dit is dat sy ʼn reël verkeerd sing. Koos du Plessis het die woorde “Elke dag is ʼn gedagte, elke kamer net gehuur” geskryf, maar pleks van “elke kamer net gehuur”, sing sy “elke kamer net vir U”, wat doodgewoon verkeerd is.

Nog ʼn snit waarop Sorina haar ernstige kant wys, is “Mamma”, wat sy ook help skryf het. Aardse engele sluit hierby aan; dit is ʼn danklied aan haar ouers en enigiemand behoort hiermee te kan identifiseer.

Sorina is egter nie net ernstig op hierdie album nie, soos wat sy op “Als in Afrikaans” bewys. Ja, sy sing van Afrikaans, maar daar is weereens nie ʼn politieke strekking in haar boodskap nie. Daar is ook ʼn weggesteekte snit op die album, “ʼn Regte rugbyheld”. Daarom moet jy die CD nie uithaal as “Als in Afrikaans” klaar gespeel het nie.

As jy na hierdie album luister, kom jy agter daar kan hoegenaamd geen twyfel meer oor Sorina se talent wees nie. Dit is beslis haar beste album tot dusver. As jy na die ware Sorina wil luister, sonder enige teken van die Flooze, kan jy gerus hierdie album by jou versameling voeg!

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.