Resensie: “If you could read my mind” – Steve Hofmeyr

steve-hofmeyr-crop

Steve Hofmeyr. Foto: Verskaf.

Nadat Steve Hofmeyr verlede jaar sy derde Toeka-CD vrygestel het, het hy besluit om weer by die verlede stil te staan deur sy eerste country-CD, If you could read my mind, op te neem.

Dit is nie die heel eerste keer wat hy hierdie soort musiek sing nie; omtrent sewe jaar gelede het hy met ʼn CD en ʼn konsert hulde gebring aan die legendariese country-sanger Kris Kristoffersen. Hierdie keer het hy egter besluit om snitte deur verskeie country-kunstenaars op te neem, onder meer ʼn paar liedjies wat nie noodwendig as country geklassifiseer kan word nie.

The Eagles kon oorspronklik as ʼn country-groep beskou word, soos wat ʼn mens in hul eerste treffer, “Take it easy” kon hoor, maar teen die tyd  dat hulle die snit wat Steve op hierdie album ingesluit het, “Heartache tonight” opgeneem het, het hulle al meer na rock begin neig. Hoe ook al, Steve se contry-vertolking daarvan klink baie goed.

Kenny Rogers is natuurlik ʼn country-legende en “The gambler” was seker sy grootste treffer. Kenny se musiek pas perfek by Steve se stem en ʼn mens wonder of Steve nie dalk daaraan moet dink om hulde aan Kenny te bring soos wat hy met Kris Kristoffersen gedoen het nie.

Creedence Clearwater Revival se groot treffer “Have you ever seen the rain?”, is al deur verskeie kunstenaars opgeneem, onder meer Smokie en Bonnie Tyler, maar Steve wyk nie juis af van die oorspronklike weergawe nie. Nogtans klink dit baie goed.

Steve Perry was die hoofsanger van die rock-groep Journey en ironies genoeg het sy solo-treffer “Oh Sherrie” baie beter op die Suid-Afrikaanse treffersparade gevaar as enige treffer wat hy as deel van dié groep gehad het. Die een Steve het besluit om dié treffer van die ander Steve in te sluit en daar is min te kies tussen Perry en Hofmeyr.

Die eerste enkelsnit op die album is Crosby, Stills and Nash se legendariese treffer, “Teach your children”, waarop die broers Arnold en Ewald Coleske saam met hom sing. Hulle het regtig ʼn skitterende weergawe van dié bekende liedjie opgeneem en dié wat nog geen ander snit op dié album gehoor het nie, sal beslis na die res wil luister.

Een van die oudste snitte op die album is Joe South se trefffer “Games people play”, wat in 1969 die nr. 1-posisie op Springbok Radio se Top 20 gehaal het. Weereens het Steve ʼn uitstekende weergawe daarvan opgeneem.

Die volgende twee snitte sal dalk verrassings wees, want dit is deur twee kunstenaars wie se musiek nie as country geklassifiseer kan word nie. Ringo Starr was die tromspeler van The Beatles, maar “Photograph” was sy grootste solo-treffer. Die ander een is Cliff Richard se “Hey Mr. Dream maker.”  Steve se country-weergawe van hierdie bekende treffer klink baie goed.

Een van die gewildste country-groepe van die 1970’s was  The Bellamy Brothers, wat in 1976 ʼn nr. 1-treffer met “Let your love flow” gehad het. Steve het egter besluit om hul ander groot treffer, “If I said you had a beautiful body” in te sluit. Die titelsnit van die album was oorspronklik ʼn treffer vir Gordon Lightfoot, wat dit ook geskryf het.

Dobie Gray was bekend as ʼn soul- eerder as ʼn country-sanger, maar “Drift away” klink baie goed wanneer dit in ʼn country-styl opgeneem word. Sover ek weet, het Ray Dylan dieselfde gedoen.

Don Williams se eerste groot treffer in Suid-Afrika was “I recall a gypsy woman” en dit was die een wat Steve vir hierdie album opgeneem het. Die mandolien en die mondfluitjie op Steve se weergawe klink baie goed.

Al hoe meer kunstenaars het Bob Dylan se komposisie “To make you feel my love” begin opneem, maar die klavierspel op Steve se opname maak dit iets besonders.  Een van die heel grootste country-treffers van die 1970’s was “Rhinestone cowboy” van Glenn  Campbell. Weereens het Steve ʼn uitstekende weergawe van ʼn bekende treffer opgeneem.

Die laaste snit op die album is Steve se weergawe van die liedjie wat die rekord hou vir die een wat die meeste aantal weke op Springbok Radio se Top 20 was, naamlik “Cry to me”, wat in 1969 en 1970 die rekords op Springbok Radio se Top 20 laat spat het.

Dit is eintlik ironies dat die musiek van oorsese country-kunstenaar soos Alan Jackson. George Strait en Tim Mc Graw nie veel aftrek in Suid-Afrika kry nie, maar dat plaaslike kunstenaars se CDs waarop hulle hierdie tipe musiek sing, uiters gewild is. Hoe dit ookal sy, hierdie CD van Steve gaan baie gewild wees. Dit maak nie saak of jy ʼn liefhebber van Steve se musiek is of nie en of jy van country hou of nie. Hierdie CD kan sonder voorbehoud aanbeveel word en sal by ʼn baie groot gehoor aanklank vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

alida ·

Mooi so Steve jy is die KONING van afrikaanse musiek. Kom wat wil !!! En bygesê is jy NIE kommin nie !!!

Carolina Theron ·

Haai Steve – jy is Great – my broer bly in VSA wil jou country CD koop /aflaai waar kan hy dit kry – solank dit nie ITUNES is nie?

FC ·

Ek het reeds geluister na die hele album via itunes.
Was so bietjie terleurgesteld.
Daar is so paar mooi liedjies maar dit het meer geklink asof Steve nie sy beste ingesit het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.