Resensie: ‘In my bloed’ – Pierre Rossouw

Pierre-Rossouw

Pierre Rossouw. Foto: Facebook.

Omtrent drie jaar gelede is Pierre Rossouw aangewys as die algehele wenner van die talentkompetisie Ons soek die sanger, maar nadat hy sy debuutalbum, Poet van die suburbs, vrygestel het, was hy lank stil.

Nou is sy tweede album, In my bloed, vrygestel, en die vraag is of hy op die sukses van sy eerste album kan voortbou. Die eerste snit, “Sing ʼn ding”, is die perfekte manier om nie net die album nie, maar ook enige konsert mee af te skop, en dit laat jou uitsien na die res van die album. As dit jou nie lus maak om te sing nie, weet ʼn mens nie so mooi nie.

“Jamblikke” was al ʼn treffer nadat dit verlede jaar op ʼn versamelalbum ingesluit is, maar die potensiaal vir groter sukses is ondermyn deur die feit dat niemand in daardie stadium geweet het wanneer Pierre weer ʼn CD sou vrystel nie. Hoe ook al, dit bly ʼn lekker snit.

Op “Lyn en hoek” sing Pierre van die verskil tussen hengel en visvang, en ʼn mens lag lekker vir hom wanneer hy verskillende stemme probeer namaak. “Feitlik ordentlik” is ʼn baie goeie snit waarop Pierre van die gevolge van drankmisbruik sing. Baie mense kry skaam oor hul verlede, maar op “Dankie vir elke fout” sing hy dat juis die foute wat jy in jou lewe gemaak het, jou gemaak het wat jy vandag is.

Enigiemand wat gedwing is om diensplig te doen, sal hom met die woorde van “Nooi se kooi” kan vereenselwig. Nog ʼn snit wat vir mense herinneringe sal terugbring, is “Klikbek”, waarin Pierre sing van stoute dinge wat kinders soms doen, maar wat nie lank geheim bly nie.

Die huidige treffer van die album is “Só het ek jou ma ontmoet”, waarop Pierre sing van hoe hy en sy vrou by mekaar uitgekom het. “Kokkedoor” is  ʼn snit waarvan elke kosliefhebber sal hou; dit is sekerlik geïnspireer deur die kosprogramme wat deesdae so gewild op televisie is.

In “Emily se soene” sing hy van hoe die liefde die manier het om op die regte tyd deel van ʼn mens se lewe te word. “Ek is net ʼn pa” vertel die storie van ʼn pa wat na sy seun verlang, dalk as gevolg van ʼn egskeiding.

Daar is een snit waarop Pierre se skerp humorsin baie goed na vore kom, naamlik “Solo-duet”, waarop hy ʼn paar sinne direk van Afrikaans na Engels vertaal, met skreeusnaakse gevolge. Suid-Afrikaners is oor die algemeen lief vir kuier, en in “Pub krol” sing Pierre van ʼn paar manne wat by verskillende kroeë gaan drink. As ʼn mens na “Here we go Stormers” luister, kan daar geen twyfel bestaan oor watter rugbyspan Pierre ondersteun nie.

Die volgende snit is ʼn akoestiese weergawe van “Vriend”, wat Pierre tydens die konsert, ʼn Spesiale aand met Pierre Rossouw, gesing het. ʼn Groot verrassing is ʼn uitstekende akoestiese weergawe van “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, en hierop kan ʼn mens agterkom dat Pierre uiters talentvol is.

Die laaste snit op die album is “You don’t need me”, waarop Pierre saam met Johan Roos sing, en hoewel Pierre vroeër op die album met sy eie Engels spot, het hy eintlik geen probleem om in Engels te sing nie.

Toe Pierre aangewys is as wenner van Ons soek die sanger, kon ʼn mens al agterkom dat hy die potensiaal het om uiters gewild te word, maar dat hy nie die marionet van ʼn platemaatskappy is nie. Met hierdie album besef ʼn mens net al meer dat Pierre weet hoe om die balans tussen musikale integriteit en kommersiële toeganklikheid te handhaaf. Daarby is hy een van die min kunstenaars wat weet hoe om mense te laat lag sonder om platvloers te wees. Daarom kan ʼn mens nie anders as om hierdie album sterk aan te beveel nie; dit is seker een van die lekkerste Afrikaanse CD’s wat tot dusver vanjaar vrygestel is!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae