Resensie: In ons ‘fairytale’ – Sharoney

Sharoney se eerste album "In ons fairytale" het 2 Ghoema-nominasies ontvang . Foto: Facebook

Sharoney se eerste album “In ons fairytale” het twee Ghoema-nominasies ontvang . Foto: Facebook

Soms gebeur dit dat ‘n nuwe kunstenaar se eerste enkelsnit so lank voor sy of haar debuutalbum vrygestel word dat ‘n mens wonder of daardie debuutalbum ooit gaan verskyn.

Een voorbeeld hiervan is Sharoney, wie se debuut-enkelsnit, Een keer, reeds aan die einde van 2013 na radiostasies toe gestuur is. Haar debuutalbum, In ons fairytale, het egter eers teen die einde van verlede jaar verskyn en sy het ‘n benoeming vir die Ghoema-toekenning as beste nuwe kunstenaar losgeslaan.

Een keer is die eerste snit vanaf dié album, en soos die meeste ander snitte is dit deur minstens twee lede van die sanggeroep Adam geskryf. Hugo Ludik en Reynhardt Hugo was verantwoordelik vir hierdie snit. Dit was ‘n treffer, maar miskien sou dit beter gevaar het as dit nie so lank voor die vrystelling van die album uitgereik is nie. Die tweede snit op die album is Prinses, die huidige treffer en weer eens ‘n komposisie van Hugo en Reynhardt. Veral jonger luisteraars sal daarvan hou, en dit behoort gewild te word. Hugo Ludik en die nuwe lid van Adam, Kyle Grant, het Wees my held saam geskryf, en dit is nog ‘n snit met trefferpotensiaal. As die show verby is, is seker een van die beste snitte op die album. Dit is geskryf deur Lokka Vox, ‘n nuwe Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer. Hemel op aarde is nog ‘n snit wat al ‘n radiotreffer was, maar weer eens is dit te lank voor die vrystelling van die album uitgereik. So iets sou dalk gewerk het as daar nog kortspelers was, maar miskien moet ‘n volledige CD eers uitgereik word voordat enige snitte na radiostasies gestuur word, veral in die geval van nuwe kunstenaars.

Daar is twee weergawes van die Byron Kuntz-komposisie Jy doen dit vir my. Dit is ‘n lekker dans-snit wat gewild behoort te word. Op Jy is die een sing Christoff de Beer saam met haar, en weer eens is dit ‘n moontlike treffer. Reynhardt en Hugo het Jy breek my saam geskryf. Iets groot, wat Hugo Ludik geskryf het, is nog ‘n snit met trefferpotensiaal. Desiré Gardner is veral bekend vir haar rol as Daleen Jonker in Binnelanders, maar sy het ook al lirieke vir die groep Adam geskryf. Sy het weer so gemaak; Magneties is ‘n goeie snit en ‘n mens dat sy dit meer gereeld wil doen. Wat my hart van vol is, het niks met Pieter Koen se (byna) gelyknamige treffer te doen nie; dit is ‘n nuwe snit wat Hugo Ludik en Kyle Grant geskryf het. Fairytale is ‘n Afrikaanse snit ondanks die Engelse titel, en dit is waar die titel van die album vandaan kom. Ten spyte van die deurmekaar taalgebruik is dit ‘n goeie snit met trefferpotensiaal. Die laaste snit is die tweede weergawe van Jy doen dit vir my, wat deur Byron Keno oorgemeng is. Die oorspronklike weergawe is beter, maar hierdie een sal die dansvloere gou vol kry.

Dis regtig jammer dat dit so lank geduur het voordat ‘n eksemplaar van hierdie album nou eers vir ‘n resensie beskikbaar was, want Sharoney sou beslis vir die Maroela Media-toekenning as nuweling van die jaar benoem gewees het. Daarom sal sy saam met 2015 se ander nuwe kunstenaars beoordeel word; onder die nuwelinge wie se debuutalbums vanjaar verwag word, is Leah, Irene-Louise van Wyk en Joe Foster. Hoe ook al; daar is weliswaar geen snitte wat kop en skouers bo die res uitstaan nie, maar daar is ook geen “weggooisnitte” nie. Daarom sal Sharoney die Ghoema-toekenning as nuweling van die jaar verdien indien sy dit wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.