[Resensie] Izaan – ‘Bly stil’

izaan-02

Izaan. Argieffoto.

Soms gebeur dit dat ʼn kunstenaar eers ʼn enkelsnit of twee uitreik voordat daar sprake van ʼn debuutalbum is. Izaan, wat net onder haar voornaam sing, het onder die publiek se aandag gekom toe haar eerste enkelsnit, “Jy maak dit beter”, teen die einde van verlede jaar vrygestel is. Sy het dit later opgevolg met haar tweede enkelsnit, “Bly stil”, en nou is haar gelyknamige debuutalbum uiteindelik vrygestel.

“Bly stil” is die eerste snit op die album. Sy het dit saam met Zanda Traut geskryf en die boodskap is baie sterk, naamlik dat ʼn mens soms twee keer moet dink voordat jy praat. Dit sal aanvanklik voorkom asof “Sê jou sê” dit weerspreek, maar die konteks verskil.

“Wat ek nie weet nie”, is seker een van die beste snitte op die album want die refrein laat ʼn mens sommer saamsing en die produksie is oor die algemeen baie goed. “Gee net een tree” sal mense wat moedeloos met die lewe is, hoop gee. Dit behoort een van die treffers op die album te wees.

“Saggies val” is die eerste snit op die album wat Izaan nie help skryf het nie. “Mallemeule”, nog ʼn snit wat Izaan help skryf het, is nog ʼn hoogtepunt, en hierdie snit sal die dansvloere vol kry. “Ligtoring”, wat deur Zanda Traut en Sean Manley geskryf is, is ʼn snit wat ʼn ma aan haar kind kan opdra. Die potensiaal wat “Jy maak dit beter” gehad het om ʼn treffer te word, is ondermyn omdat dit so lank geduur het voordat die album vrygestel is.

Daar is een groot verrassing op die album. In 1981 het Kim Carnes ʼn internasionale nr. 1-treffer met “Bette Davis eyes” gehad en enigiemand wat dié liedjie kan onthou, sal Izaan ewig dankbaar wees omdat sy dit op dié album ingesluit het. Haar weergawe staan glad nie vir dié van Kim Carnes terug nie.

Die tweede Engelse snit is “Something in the water”, wat deur Brooke Fraser geskryf is. Nog ʼn verrassing is “Feels like home”, ʼn komposisie van Randy Newman. Izaan is ook nie skaam om haar Christenskap te deel nie. “Ek en U saam” is een van twee snitte wat sy alleen geskryf het en ʼn mens kom agter dat sy ʼn toegewyde kind van die Here is. Hierdie snit het al radiolugtyd gekry, maar nie soveel as wat dit verdien nie.

Die ander snit wat sy self geskryf het, is ook ʼn Christelike lied, “My krag”. Al wat ʼn mens kan sê, is dit is ʼn pragtige lied en verdien om gereeld gehoor te word. Miskien behoort musiekleiers van verskillende denominasies te oorweeg om dit vir hul gemeentes te leer, nie net omdat dit ʼn saamsing-melodie nie, maar ook omdat dit ʼn sterk boodskap oordra. Hierdie snit is die algehele hoogtepunt op die album en dis jammer dat dit aan die einde weggesteek is.

Daar is geen twyfel dat Izaan een van die talentvolste nuwe kunstenaars op die Afrikaanse musiektoneel is nie. Met hierdie album bewys sy dat sy so te sê enige genre kan baasraak en dat sy Afrikaanse en Engelse en kommersiële en Christelike musiek ewe goed kan sing. Daar is ʼn paar snitte op dié album wat nog nie hul trefferpotensiaal verwesenlik het nie en hopelik sal dit sommer binnekort gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.