Resensie: ‘Ja. Nee. Lekker’ (De luxe-uitgawe) – Die Heuwels Fantasties

die-heuwels-fantasties-ja-nee-lekker (Medium)

Die Heuwels Fantasties se nuwe album Ja.Nee.Lekker is nou beskikbaar. Foto: Verskaf

Sedert hulle ses jaar gelede op die Suid-Afrikaanse musiektoneel verskyn het, het Die Heuwels Fantasties gewis die een groep, wie se musiek op ’n “alternatiewe” gehoor gemik is, geword wat volgehoue kommersiële sukses behaal het.

Hul jongste album, Ja. Nee. Lekker., is onlangs bekendgestel, maar nadat hulle die temaliedjie van die rolprent Ballade vir ’n enkeling opgeneem het, is ’n de luxe-weergawe daarvan uitgereik. Daar is nog ’n bonussnit op hierdie weergawe, maar meer later daaroor.

Die eerste snit, “Die skemer skema”, is ’n lekker rock-liedjie wat ’n groot treffer kan word. “Maanlig in video” is ’n lang snit met min lirieke en begin later ’n bietjie vervelig raak. Die volgende snit, met die eenvoudige titel “Sy”, is egter ’n moontlike treffer.

Net een snit op die oorspronklike weergawe is nie ’n splinternuwe komposisie nie en dit is “Voëlvry”. In 1988 het die Voëlvry-beweging Afrikaanse musiek geskok en die loopbaan van verskeie alternatiewe kunstenaars aan die gang gesit. Die liedjie is deur Pieter van der Lugt geskryf en oorspronklik opgeneem; Die Heuwels Fantasties se weergawe is egter baie goed en dit kan weer ’n treffer word. Daarby is die sensuur wat destyds toegepas is, nie meer ’n probleem nie.

“Kom haal my” is een van die beste snitte op die album. “Kan nie jou hart vind nie” is dalk effens rustiger as die meeste ander snitte op die album, maar dit verdien beslis radiolugtyd. “Doen net wat jy wil” is twee keer op die album; die “solo”-weergawe van Die Heuwels Fantasties kom eerste voor, en later die een saam met Riana Nel, wat die huidige treffer op die album is. Hulle weergawe staan egter bekend as “Doen net wat ons wil”.

“Shangri-La” was die eerste enkelsnit, maar sy potensiaal om ’n treffer te word, het skade gely nadat Ballade vir ’n enkeling uitgereik is. Frieda van den Heever sing saam met Heuwels op “Nodig”, ’n pragtige snit wat hopelik ook ’n treffer sal word.

Die hoofsanger van aKing, Laudo Liebenberg, het met die afgelope Afri-Visie-kompetisie bekendheid verwerf as die sanger van “Langpad na later”, wat die eerste tien gehaal het. Hy sing saam met Heuwels op “Laat hy val waar hy wil”.

Die laaste twee snitte, wat die rede is vir die uitreiking van die de luxe-uitgawe, is die twee groot treffers wat die album opgelewer het. Veral “Ballade vir ’n enkeling” het Die Heuwels Fantasties bekendgestel aan ’n gehoor wat nie noodwendig na hul musiek luister nie, en dis maklik om te verstaan waarom dit so gewild geword het. “Doen net wat ons wil” is die huidige treffer waarop Riana Nel saamsing, en dit het reeds die trefferslyste van ’n paar radiostasies gehaal.

Die gewildheid van Die Heuwels Fantasties, ten spyte van hul “alternatiewe” aanslag, sal dalk vir sommige mense ’n verrassing wees. Met hierdie album kan ’n mens egter verstaan waarom hulle so suksesvol is, want hoewel hulle dalk nie so kommersieel soos die meeste ander gewilde kunstenaars of groepe is nie, kom hulle elke keer vorendag met musiek van hoogstaande gehalte en hoef ’n mens nooit hul integriteit in twyfel te trek nie. Noudat hul musiek aan ’n groter gehoor blootgestel is, kan hulle net beter vaar as in die verlede.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.