Resensie: Jakkals en Leo raak maats

jakkie-louw-kevin-leo-jakkals-en-leo

Foto: Verskaf

Deur die jare was daar al verskeie pogings om twee kunstenaars van verskillende musiekgenres bymekaar te kry, hetsy vir een of twee liedjies of vir ’n hele album.

Twee van die bekendste, en suksesvolste, voorbeelde is die Spaanse tenoor Placido Domingo wat die treffer “Perhaps love” saam met die country-sanger John Denver opgeneem het en die hoofsanger van Queen wat die treffer “Barcelona” saam met die operasangeres Montserrat Caballe gesing het.

Nou het twee Afrikaanse kunstenaars wie se musiek uiteenlopend van aard is, bymekaargekom vir ’n soortgelyke projek, maar hierdie keer vir ’n hele album. Jakkie Louw het natuurlik al heelwat poptreffers gehad, veral “Drie pikkewyne” en “Die hoender-song”, terwyl Kevin Leo eerder ’n tenoor met ’n klassieke aanslag is. Hulle het besluit om saam as Jakkals en Leo op te tree, en nadat ons lank moes wag, is hul gelyknamige album eindelik onlangs vrygestel.

Die eerste snit op die album is hul weergawe van Louis van Rensburg se bekende “Voshaarnooi”, wat hulle in die rolprent Liefling gesing het. Met die volgende snit beweeg Jakkie effens uit sy gemaksone; dit is naamlik Jannie du Toit se bekende “Liedjie vir jou”. Lucas Maree was een van ons land se voorste liedjieskrywers, maar hy is vier jaar gelede aan kanker oorlede. Hulle bring hulde aan hom met ’n keurspel van sy treffers, wat bestaan uit “Victoriabaai”, “Droomvrou” en “Ek sou kon doen met ’n miljoen”. Jakkie het natuurlik tot dusver nie net vrolike liedjies opgeneem nie, maar met “Een miljoen woorde” het hy gewys dat daar baie meer in hom steek. Dit is net jammer Kevin Leo sing nie hier saam met hom nie. “Cry to me” was ’n baie groot treffer vir The Staccatos, en hulle het besluit om dit ook op die CD in te sluit.

“Marulaboom” was een van Jakkie se treffers, en weereens is dit jammer dat Kevin nie saam met hom sing nie. Dit sou iets besonders gewees het. “Wie is jy” was weer een van Kevin se treffers, en Jakkie sing hier saam met hom. “Gebed van die vreeslose” was die eerste liedjie wat hulle saam opgeneem het wat ’n treffer geword het.

Die volgende snit is ’n keurspel van liefdesliedjies wat onder meer bestaan uit “Only you” van Yazoo, “Perhaps love”, waarna ek vroeër verwys het en “Play me” van Neil Diamond. Luciano Pavarotti en Bryan Adams het die bekende Italiaanse lied “O sole mio” saam opgeneem, en nou het Jakkie en Kevin dit ook gedoen. Baie mense het al Frank Sinatra se treffer “My way” gesing, maar min kon dit goed doen. Gelukkig slaag Jakkie en Kevin die toets.

Die laaste snit op die album is “Ave Maria” en weereens sien ons ’n kant van Jakkie waarvan min mense bewus was. Hy het beslis meer talent as waarvoor mense hom erkenning gee.

Jakkie en Kevin het lank gewag voordat hulle hierdie CD uitgereik het, maar dit was die moeite werd, hoewel ’n mens voel dat Kevin dalk meer uit sy gemaksone moes beweeg en van Jakkie se poptreffers saam met hom moes sing. Hoe ook al, die meeste mense sal dit baie geniet, en daarom kan dit sterk aanbeveel word. Hopelik maak hulle gou weer so!

Die duo het ook onlangs met Burger Meyer gesels oor hulle musiek – luister hier na die gesprek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.