Resensie: Jan Blohm – Breyten se brief en die dekade daarna

Jan-Blohm

Jan Blohm vier sy dekade in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf met ‘n versameling van sy grootste treffers. Foto: Jan Blohm se Facebookblad.

Dit is nou al tien jaar sedert Jan Blohm op die Afrikaanse musiektoneel verskyn het.

Ter viering daarvan is ‘n versameling van sy grootste treffers oor die afgelope dekade, Breyten se brief en die dekade daarna, uitgereik. Die titelsnit was die liedjie waarmee Jan aanvanklik bekendheid verwerf het, en die feit dat Gerrie Pretorius dit ook later saam met hom opgeneem het, is ‘n bewys dat dit op ‘n uiters breë gehoor gemik is.

Die volgende snit, In wens, is nog een van Jan se bekendste treffers; dit het aanvanklik op sy album, ‘n Stille runaway, voorgekom. Dit is ‘n snit wat wyd byval gevind het nie; nie net by die liefhebbers van “alternatiewe” musiek op wie sy musiek gemik is nie. Groen trui was seker Jan se grootste treffer tot dusver; dit kom selfs in die nuwe FAK-sangbundel voor. Dit was die titelsnit van sy derde album, wat in 2006 verskyn het. Rosie was die eerste snit vanaf die album 7 jaar, wat in 2009 verskyn het; hierop speel Jan nie net kitaar nie, maar ook mondfluitjie.

Dit is nie net die “kommersiële” kunstenaars wat die woord “baby” in hul liedjies gebruik nie. Baby baby, die eerste snit op sy debuutalbum, Melkstraat confessions, is ‘n beter liedjie as wat ‘n mens sou dink. Vanoggend Van Gogh is ‘n pragtige snit wat dalk nie so bekend is nie. Harlekyne en treine was nog ‘n snit vanaf sy Groen trui-album. Roosmaryn-kaneel was een van die treffersnitte van sy mees onlangse album, Ruby, wat in 2012 uitgereik is. Sondag-lover is nog een van die pragtige snitte vanaf Jan se debuutalbum.

‘n Stille runaway was die titelsnit van Jan se tweede album, en dit is ‘n goeie snit wat nie soveel radiolugtyd gekry het as wat dit moes nie. Soos wat ‘n mens van Jan gwoond geraak het, is sy taalgebruik allesbehalwe suiwer, maar vir ‘n verandering maak dit nie soveel saak soos wanneer meer kommersiële kunstenaars hulle daaraan skuldig maak nie. Maria Magdalena is nog ‘n snit vanaf die Groen trui-album, maar weer eens het dit nie veel radiolugtyd gekry nie. Daarom is dit goed dat dit hier ingesluit is. Chardonnay is ‘n goeie snit vanaf sy album 7 jaar. Boere-Cinderella is ‘n lekker snit met omtrent niks anders as ‘n trom, ‘n mondfluitjie en ‘n kitaar as begeleiding nie. Waterdief is een van die snitte wat meer as een ker opgeneem is; dit was oorspronklik op ‘n Stille runaway, maar dit is ook later by die album Die runaway-sessies ingesluit. Dit is ongetwyfeld een van die heel beste snitte op hierdie versameling. Opgedra aan Dinsdag is aananklik op Groen trui ingesluit; dit is nog ‘n goeie snit wat verdien om mer gereeld oor die radio gehoor te word. Rooi wyn en Mary Jane, vanaf Melkstraat confessions is ‘n mooi snit, maar dalk effens lank. Mossie bruin is dalk ‘n minder bekende snit, maar nogtans mooi. Ons huisie het oorspronklik op Jan se konsertalbum en –DVD Lotus voorgekom. Die laaste snit is Brand die vure, een van die nuwer snitte vanaf die album.

Hoewel Jan se musiek nie noodwendig kommersieel van aard is nie, kan daar geen twyfel oor sy talent bestaan nie. Jan is meer as net ‘n sanger; dit is duidelik dat sy lirieke deur poësie beïnvloed is. Daarom sal ‘n mens langer na hom kan luister as na enige van die kommersiële kunstenaars wie se musiek die speellyste van radiostasies oorheers.

Diegene wat nie sy musiek so goed ken nie, maar nogtans belangstel in musiek met iets om die lyf moet dalk daaraan dink om hierdie album by hul CD-versamelings te voeg.

Luister gerus saam na die musiekvideo van Jan Blohm se liedjie, Groen trui:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.