Resensie: Janie Bay bekoor met akoestiese album

Janie Bay het ongetwyfeld een van die land se voortreflikste vrouestemme. Haar jongste album, In die sitkamer, is ʼn akoestiese album wat tydens die inperkingstydperk opgeneem is.

In die sitkamer bestaan uit agt snitte en is slegs 27 minute lank, maar dit is ʼn halfuur waartydens Bay die luisteraar bekoor met akoestiese weergawes van radio-treffers soos “Amper daar” en “Die heelal”.

Die album is in die sitkamer van die groep Spoegwolf se huis op Stellenbosch opgeneem – vandaar die titel In die sitkamer.

Vir aanhangers wat Bay se kenmerkende, byderwetse klank geniet, sal die akoestiese album moontlik effe buite hul smaak val. Luisteraars wat haar musiek nou eers ontdek, sal moontlik voorkeur aan die akoestiese weergawes gee.

Hoewel Bay se weergawes van die bekende Engelse treffers “Can’t help falling in love” en “You are my sunshine” (wat ook in die lokettreffer Stroomop verskyn het) sag is op die oor, troon die Afrikaanse snitte “Sterre brand” en “Jammer” kop en skouers bo die res uit.

Die eerste liedjie op die album, “Herfs”, is ʼn pragtige liefdeslied wat veel meer aandag verdien as wat daaraan verleen word en gee die pas vir die res van die album aan.

In die sitkamer bevat ook nét genoeg samewerkingsnitte vir so ʼn kort album: Hunter Kennedy verskyn saam met Bay op die snit “Wag vir jou” en Early B kletsrym saam op die snit “Die heelal”.

ʼn Aanvallige wit-en-swart-albumomslag met ʼn foto deur Marguerite van Eeden dra by tot die algehele gevoel van die album.

In die sitkamer kan maklik herhaaldelik gespeel word op ʼn rustige Saterdagoggend in die bed met koffie en beskuit, in die motor op die langpad of om die braaivleisvuur.

In die sitkamer is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.