[Resensie] Jannie du Toit sing Brel

jannie-du-toit-sing-brel

Jannie du Toit saam met saam met Coenraad Rall (regs) en Susan Mouton (links). Foto: Facebook.

Hoewel die Belgiese sanger en liedjieskrywer, Jacques Brel, reeds in 1978 oorlede is, inspireer hy vandag nog verskeie Suid-Afrikaanse en oorsese kunstenaars.

Die mees onlangse plaaslike kunstenaar wat van sy werk opgeneem het, is Jannie du Toit, wat lank al erken het Brel het ʼn groot invloed op sy lewe gehad. Hy het nie net ʼn verhoogproduksie, Bonjour Monsieur Brel, saamgestel nie, maar ook ʼn album vrygestel waarop hy Brel se musiek in vier tale sing.

Brel was Franssprekend en die eerste Franse snit op die album is “Les prénoms de Paris” (Die name van Parys). Jannie praat nie self Frans nie, maar daar is niks met sy Franse uitspraak verkeerd nie.

“Een vriend zien huilen” was een van Brel se bekendste Nederlandse komposisies en is ook deur die Nederlandse sanger Herman van Veen opgeneem. “Jojo” is die eerste snit wat in Afrikaans vertaal is en Naomi Morgan en Bernard Odendaal het die Afrikaanse woorde geskryf.

Op “Amsterdam”, die Engelse weergawe van “Dans le port d’Amsterdam”, stel Jannie sy laer register baie goed ten toon. Nog ʼn Engelse vertaling is “Tenderness”, oorspronklik bekend as “La tenderesse”.

As daar een Brel-komposisie is wat ʼn baie groot treffer geword het, is dit “Madeleine”, wat Jannie oorspronklik in 1990 op sy album Palet opgeneem het. Hierdie weergawe, met Christa Steyn op klavier, is net só op hierdie album ingesluit. Dit is só ʼn goeie opname dat dit glad nie saakmaak nie en daar is sekerlik baie mense wat nog op soek is daarna.

Die volgende snit, “Le prochain amour” (Die volgende liefde) is heeltemal anders en ʼn voorbeeld van die Franse chanson waarvoor Brel soveel bekendheid verwerf het. “My kinderdae” is nog ʼn Afrikaanse vertaling van Naomi Morgan en Bernard Odendaal.

Jannie het “Il neige sur Liége” (Dit sneeu oor Luik) die eerste keer op sy album Ligjare ingesluit. “Marieke” is sonder twyfel een van Brel se bekendste komposisies, en is al ook onder meer deur Laurika Rauch en Karin Hougaard opgeneem. “Mijn vlakke land” is nog ʼn snit wat ook al deur Laurika Rauch opgeneem is.

“Drinklied” is die Afrikaanse weergawe van “La biére” en hier kom ʼn mens agter Brel het ook ʼn sin vir humor gehad. Nog ʼn voorbeeld daarvan is “De nutteloozen van de nacht” en ʼn mens lag lekker vir Jannie se Nederlandse aksent.

“Laat me niet alleen” is die Nederlandse weergawe van “Ne me quitte pas”, wat deur Rod Mc Kuen in Engels vertaal is onder die titel “If you go away” en ʼn groot internasionale treffer geword het.

“Die sterwende” is die een Brel-komposisie wat almal sal ken. Rod Mc Kuen het Engelse woorde daarvoor geskryf en dit het as “Seasons in the sun”, ʼn nr. 1-treffer vir Terry Jacks opgelewer. Westlife het jare later ook ʼn baie mooi opname daarvan gemaak. Dit maak nie saak in watter taal dit gesing word nie, dit bly hartseer.

“You don’t forget” is die Engelse vertaling van “On n’oublie rien” (ʼn Mens vergeet niks) en dit is dalk een van die beste snitte op die album. “The old folks” is nog ʼn snit wat al deur Laurika Rauch opgeneem is.

“Liefde van later” is nog ʼn bekende Brel-komposisie en gelukkig sing Jannie dit in Nederlands eerder as in Afrikaans. Jy kan die woorde nie regstreeks in Afrikaans vertaal nie, soos soveel mense al sonder sukses probeer het.

Die laaste twee snitte ,“Next”, die Engelse verwerking van “Au suivant” (Volgende) en die akoestiese weergawe van “Amsterdam”, wat hierdie keer in Afrikaans gesing word, is by die Brooklyn-teater in Pretoria opgeneem.

Jannie was nog nooit ʼn kunstenaar wat hom aan kommersiële foefies gesteur het nie en hy het nog al die jare musiek met integriteit gekomponeer en vrygestel. Met hierdie album is dit weer die geval.

Jacques Brel se musiek is nie sonder rede vandag nog gewild nie en dit het die toets van die tyd deurstaan. Dit val egter nie noodwendig in almal se smaak nie en as jy na niks anders as hedendaagse Afrikaanse treffers luister nie, sal jy nie hiervan hou nie. As jy egter op soek is na musiek is wat meer om die lyf het as “bokkie”, “sokkie” of “baby”, kan jy hierdie album gerus by jou versameling voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.