[Resensie] Juan Boucher – ‘Dis wie ek is’

juan-boucher-dis-wie-ek-is

Juan Boucher se jongste album getiteld ‘Dis wie ek is’. Foto: Verskaf.

Hoewel Juan Boucher reeds in 2009 sy debuutalbum vrygestel het, het hy eers onlangs gewild geword nadat hy treffers soos “Sad sad songs”, “Gebore om by jou te wees” en “Disintegreer” vrygestel het.

Nou is hy terug met sy vyfde album, Dis wie ek is en dit lyk reeds asof dit sy suksesvolste album tot dusver gaan wees. Soos ʼn mens op die eerste snit, “Hoe weet jy wie ek is?”, kan agterkom, is hierdie album dalk ʼn bietjie meer persoonlik as voorheen. Hy het hierdie snit self geskryf.

Die huidige treffer is nog een van sy eie komposisies, “Jy’s my gif”, wat deesdae gereelde radiolugtyd kry. Die volgende snit, “Teenoorgestelde liefde” is nog ʼn moontlike treffer. Nog ʼn snit met ʼn boodskap wat dieselfde strekking het, is “Dans in die donker.” Byron Kuntz is die regisseur van die album, en hy sing saam op hierdie snit. Dit is veral op hierdie snit wat Byron sy stempel as regisseur afdruk.

Op “Pas so perfek bymekaar”, wys Juan hy sing nie net liedjies wat op die dansvloer gemik is nie, want dit is ʼn pragtige snit, wat regtig verdien om gewild te word. “Bêre jou hart vir my” is een van die beste snitte op die album en is op ʼn breër gehoor gemik as baie ander snitte op die album.

Die klankeffekte op “Die sterre spel jou naam” is baie goed, maar dit vereis egter dat hierdie liedjie op die verhoog met behulp van ʼn begeleidingsnit gesing moet word, al kan Juan kitaar speel. “Ons is mekaar sʼnne” (sic) was die eerste enkelsnit op die album, maar kon dalk ʼn groter treffer gewees het as wat dit was.

Die tweede snit waarop Byron Kuntz saam met Juan sing, is “Ek en jy alleen in die somer”. Hierdie snit is op ʼn jonger gehoor gemik en sal die dansvloere vinnig vol kry. Die kitaarwerk op “Vure, braaivleis, vriende” is baie goed en dit sal byval vind by dié wat hou van lekker kuier. Dis net jammer dat die lirieke van hierdie snit nie op die omslag voorkom nie, al het Juan dit geskryf.

Daar is net een Engelse snit op die album, “Only have eyes on you”, is ook Juan se komposisie en bewys dat hy in Engels ook kan skryf. Die laaste snit, “Môre lyk dit anders” het niks te doen met Rina Hugo se liedjie met dieselfde titel nie en is weereens ʼn liedjie wat Juan self geskryf het.

Met hierdie album het Juan groter sukses behaal as ooit tevore in sy loopbaan. Daar is reeds drie snitte wat treffers geword het en daar kan nog ʼn paar wees. Natuurlik word dit sterk vir sy aanhangers aanbeveel, maar as jy van Áfrikaanse musiek hou wat op ʼn jonger gehoor gemik is, kan jy dit by jou versameling voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.