Resensie: ‘Kalm voor die storm’ – Juan Boucher

Juan-Boucher-Kalm-voor-die-storm

Juan Boucher se jongste album ‘Kalm voor die storm’. Foto: Facebook.

Dit is nou omtrent vyf jaar sedert die musiekbedryf vir die eerste keer kennis geneem het van Juan Boucher.

Sy eerste album, 082, het die treffer “Bring die water” opgelewer. Dié album is later onder die titel Jy’s my flavour heruitgereik met ʼn paar bonussnitte wat ingesluit is, onder meer die treffer “Trek toe die gordyne”, wat veral by ʼn jonger gehoor byval gevind het. Met sy derde album, Gee jou hart ʼn breek, het sy gewildheid net nog verder toegeneem, veral danksy die treffer “Sad sad songs”.

Nou is hy terug met sy jongste album, Kalm voor die storm, wat reeds begin treffers oplewer. Die album begin met ʼn inleiding waarop hy praat eerder as sing, en hierop vertel hy wat musiek vir hom beteken. Die volgende snit is een van die treffers, “Gebore om by jou te wees”, wat hy, soos al die snitte op die album, self geskryf het.

“As jy my nie nou liefhet nie” is nog ʼn moontlike treffer van die album. Juan het saam met Byron Kuntz gewerk aan die album. Byron is een van die groot redes vir Gerhard Steyn se sukses en hy was ook die regisseur van Lemé se nuwe album. “Disintegreer” is een van die treffersnitte; dit is dalk een van die heel beste snitte op die album. “Ritme van my hart” is een van die snitte wat veral by jonger luisteraars byval sal vind.

“Oefen om te soen” is die nuwe treffersnit; die musiekvideo daarvan kan hieronder gesien word.  Veral dié wat van Ray Dylan en Nicholis Louw se musiek hou, sal hierdie een geniet. “Nikotien” is ʼn lekker snit, hoewel sommige mense dalk nie sal hou van die vergelyking tussen liefde en sigarette nie. “Vrydagaand se klok” is dalk die hoogtepunt van die album; Byron Kuntz sing dit saam met hom en dit sal die dansbaan gou vol kry. Hopelik sal dit ʼn groot treffer word.

“Jy en ek” is nog ʼn lekker snit wat dalk by jonger luisteraars byval sal vind. Die laaste snit op die album is “Fight vir liefde” en Juan klink veral goed wanneer hy in ʼn laer register sing.

Juan het hom die afgelope paar jaar gevestig as ʼn goeie liedjieskrywer en sanger, wie se musiek op ʼn jong gehoor gemik is, maar wat ook by ʼn groter gehoor byval behoort te vind. Met hierdie album behoort hy voort te bou op die sukses wat hy voorheen behaal het, en dalk sal hy ook nog nuwe bewonderaars bykry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.