[Resensie] Kerry Lee – ‘Dans in die reën’

kerry-lee-dans-na-die-reen

Kerry Lee. Foto: Starburstmusic.co.za

Hoewel Kerry Lee as ʼn nuweling op die plaaslike musiektoneel beskou kan word, het sy eintlik al ʼn paar jaar gelede haar eerste tree in dié bedryf gegee toe sy die enkelsnit “Met ringe en woorde” vrygestel het.

Haar tweede enkelsnit, “Shut up en soen my”, was egter haar groot deurbraak en het die trefferslyste van verskeie radiostasies gehaal. Nou is haar debuutalbum, Dans in die reën, uiteindelik vrygestel en sy is gereed om haar merk in die musiekbedryf te maak.

Die eerste snit op die album is die huidige treffer, “Hals oor kop” en dié komposisie van Hugo Ludik en Vaughan Gardiner gee ʼn mens ʼn idee van wat om te verwag. Dit is ʼn lekker countryliedjie, wat besig is om ʼn groot treffer te word.

“Op ʼn skaal van 1 tot 10” is deur Roux Cloete geskryf en dit is nog ʼn snit wat radiolugtyd behoort te kry. Hugo Ludik en Vaughan Gardiner het saamgespan vir die volgende snit, “Hart van goud”, wat ʼn effense country-rock-klank het en beslis ʼn treffer kan word.

“Shut up en soen my” het homself reeds as ʼn treffer bewys, maar almal hou nie noodwendig daarvan nie. Die titelsnit is egter ʼn hoogtepunt. Dit is ʼn countryballade waarop Kerry Lee wys wat in haar steek. Dit sal hopelik die volgende enkelsnit wees, want dit verdien beslis om gewild te word.

Reynhardt Hugo en Hugo Ludik is twee lede van die groep Adam en hulle het “Kaalvoet-boerseun” saam geskryf. Dit is nog ʼn lekker snit wat ʼn groot treffer kan word. “Met ringe en woorde” was tot dusver moeilik om in die hande te kry en baie mense sal bly wees om dit eindelik op ʼn album te hê. Dit bly ʼn pragtige snit en ʼn mens kan verstaan waarom dit so gewild is.

Nog ʼn komposisie, van Vaughan Gardiner, is “Ek sal jou die wêreld wys”. Vaughan is ʼn baie goeie liedjieskrywer, soos wat hy met hierdie snit wys. “Werklik myne maak” is ʼn countryballade, wat weereens uit Vaughan Gardiner se pen kom en weereens wys Kerry Lee waartoe sy in staat is.

“What I love about your love” is die enigste Engelse snit op die album en is oorspronklik deur Jana Kramer opgeneem. Dis goed dat Kerry Lee dit ingesluit het, want die Suid-Afrikaanse publiek word nie genoeg aan moderne internasionale countrymusiek blootgestel nie. Die laaste snit op die album is ʼn uitstekende akoestiese weergawe van die titelsnit.

Daar is deesdae maar min plaaslike kunstenaars wat met goeie oorspronklike countrymusiek vorendag kom. Die meeste countrykunstenaars sing bestaande liedjies en dra weinig by tot die uitbreiding van dié musiekgenre.

Daarom is dit goed dat Kerry Lee byna niks anders as oorspronklike liedjies ingesluit het nie, met die uitsondering van een snit, waarvan die oorspronklike weergawe net so wel ʼn treffer kon geword het. Hierdie album kan sterk aanbeveel word vir liefhebbers van countrymusiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.