Resensie: Kô lag ‘n bietjie – Andries Vermeulen

Andries-Vermeulen

Andries Vermeulen. Foto: Facebook.

Omtrent tien jaar gelede het Andries Vermeulen vir die eerste keer tot die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf toegetree toe hy sy album Wie se … uitgereik het.

Ná ’n jaar of wat het hy dit opgevolg met sy tweede album, Jy vry lekker (maar nie so lekker soos jou sussie nie), maar sedertdien het ‘n mens maar min van hom gehoor. Nou is hy terug met sy jongste album, Kô lag ‘n bietjie, wat uit twee CD’s bestaan; een waarop hy stories vertel en een waarop hy sing.

Vir die doeleindes van hierdie resensie gaan ek net op laasgenoemde CD konsentreer en eerder sy liedjies as sy stories onder die loep neem, veral omdat daar meer as dertig stories op die eerste CD voorkom en hierdie resensie heeltemal te lank sou wees as ’n mens ook daaroor skryf. Daar is egter ’n video van een van die stories onder aan hierdie resensie en dit sal diegene wat hiervan hou, laat uitsien na meer.

Die Weskus-manier gee ’n mens hoop dat Andries die afgelope jare as sanger verbeter het, want hy sing van die wêreld waar hy grootgeword het. Dit behoort egter ook in die res van die wêreld gewild te word. Andries het groot name in die musiekbedryf gekry om saam met hom te werk, naamlik Ricus Nel, wat onder meer die kosertina en die banjo speel en die Campbells, wat onder meer vir die agtergrondsang verantwoordelik is.  Hulle het dit ook saam met hom geskryf.

Die titelsnit kon maklik platvloers gewees het, maar gelukkig is dit nie. Dit is weer deur die Campbells geskryf, maar hierdie keer saam met Vos Reyneke. Die volgende snit is ’n keurspel van David Kramer se treffers, naamlik ’’Stoksielalleen’’,  ’’Druk my vas’’ en  ’’Bokkie wil jy dans’’. André van der Merwe het die lekker snit ’’Weskus-kwêla’’ geskryf, en weer is dit ’n snit wat oral in die land gewild kan word.

’’Ek glo in jou’’ is die verrassing op die album. Dit wys dat Andries ‘n uiters talentvolle kunstenaar is wat net sy talent reg moet gebruik. Die ander verrassing is dat Jan Hoogendyk dit geskryf het. Jan Hoogendyk is niemand minder nie as Elvis Blue en dis eintlik snaaks dat hy dit nie self ook opgeneem het nie.

Pierre Rossouw het ’‘Was jy daar geskryf’’ en hier kom ‘n mens agter dat Pierre ‘n baie goeie liedjieskrywer is.  Anton Botha het die pragtige snit ’’Oktobermaand’’ geskryf en dit is nog ’n snit waarop Andries sy ware talent ten toon stel. Steve Hofmeyr het ’’Ons’’ geskryf en hy sing dit saam met Andries. Dit is die treffersnit op hierdie album en dit behoort speeltyd op verskeie radiostasies te kry.

Die voorlaaste snit op die CD is ‘n country-keurspel wat bestaan uit  ’’Heaven is my woman’s love’’ en ’’You ask me to’’, wat treffers vir onderskeidelik Tommy Overstreet en Bobby Angel was. Daar is net een snit wat nie regtig op die CD hoort nie, en dit is die titelsnit van sy album Jy vry lekker. Hoe minder ’n mens daaroor sê, hoe beter.

Andries het beslis baie verbeter as sanger, en ’n mens kan nie glo dat dit dieselfde kunstenaar is wat jare gelede vorendag gekom het met liedjies wat jy liewer wil vergeet nie.  As jy van kunstenaars hou wat van die Weskus af kom, en die dae van Spies en Plessie en Maak ‘n las mis, kan jy gerus hierdie album by jou versameling voeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae