Resensie: ‘Kyk hoe val die reën’ – Juandré Marais

juandré-marais

Juandré Marais. Foto: Juandré Marais se Facebook-blad.

Dit het al voorheen gebeur dat ’n album onder een titel uitgereik is, maar dat dit onder ’n ander titel heruitgereik word nadat ’n snit op die album ’n treffer geword het of nadat die betrokke kunstenaar ’n CD-kontrak gekry het.

Dit is presies wat met Juandré Marais se album Rock ’n roll-Cowboy gebeur het. Hierdie album is onafhanklik uitgereik, maar ’n groot platemaatskappy het sy potensiaal raakgesien en dit onder die titel van die eerste treffersnit, “Kyk hoe val die reën”, heruitgereik.

Die eerste snit op dié album is die nuwe treffer, “Vir my is daar net jy”, waarvan daar twee weergawes ingesluit is. Juandré het dit saam met die vervaardiger en regisseur van die album, Ernie Bates, geskryf.

Daarna volg die titelsnit en hoewel dié al heelwat radiolugtyd gekry het, kan dit ’n groter treffer word as wat dit tot dusver was. “Lalie”, geskryf deur Juandré en Ernie in samewerking met die akteur en sanger Marno van der Merwe, is die ander snit wat gereeld op die radio gehoor word.

Nóg ’n snit geskryf deur Juandré en Ernie is “Sad Song Love Song Lullaby”. Dis jammer dat hulle die taal met hierdie snit vermink het, maar as jy dié kritiek buite rekening laat, is dit glad nie ’n slegte snit nie.

“Onthou”, nog ’n komposisie van dié twee, is dalk een van die beste snitte op die album en kan ’n treffer te word. “Dalk die een”, uit Ernie se pen, kan veral by jonger luisteraars byval vind hoewel dit die lirieke is, meer as as enigiets anders, wat tot jonger luisteraars sal spreek.

Juandré, Ernie en Marno het saamgespan vir “Bly”, ’n baie goeie liedjie wat die eerste snit op die oorspronklike CD was. Dit kan net so wel een van die treffersnitte wees.

Soos die meeste snitte op die album is “Poppe dans” ’n vermenging van country en rock en weer eens is dit goed genoeg om radiolugtyd te kry. “Hou bietjie-bietjie” is ’nlekker snit met ’n effense Boeremusiek-klank en dit behoort die dansvloere vinnig vol te kry! Daarby pas die deurmekaar taalgebruik baie goed by hierdie liedjie. “Rock ’n roll Cowboy” was die titelsnit van die aanvanklike CD, en hierop sing Juandré van ’n country-musiekliehebber wat ouer word.  In “20 jaar later” spoel Juandré sy mond uit oor wat die afgelope twee dekades in Suid-Afrika gebeur het.

Daar is net twee snitte op die album wat nie oorspronklike komposisies is nie. Die eerste een is Johnny Cash se treffer “Ring of Fire”, wat hy saam met Ernie sing. Hulle opname vergelyk baie goed met die oorspronklike een.

Daarna volg ’n keurspel van bekende liedjies soos “Tulsa Time” van Don Williams, “Mustang Sally” wat ’n treffer vir Wilson Pickett en vir The Commitments was, “You May Be Right” van Billy Joel en “Stuck in the Middle with You” van die groep Stealer’s Wheel, waarvan Gerry Rafferty die hoofsanger was.

Die laaste snit op die album is ’n goeie akoestiese weergawe van “Vir my is daar net jy”.

Daar is deesdae soveel kunstenaars op die Afrikaanse musiektoneel dat ’n mens wonder of die mark nie dalk al versadig is nie en of daar plek vir almal is. Gelukkig is daar ’n aantal kunstenaars wat nie noodwendig agter modegiere aanhardloop nie en wat met musiek met integriteit vorendag kom. Dit lyk of Juanrdé een van laasgenoemde kunstenaars is. Hy is ’n goeie liedjieskrywer en die vermenging van country en rock op hierdie album behoort by ’n groot gehoor byval te vind.  Juandré is ’n aanwins vir die Afrikaanse musiekbedryf en as die radiostasies hul deel doen, behoort hy baie gewild te word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.