Resensie: Leeu van jou hart – Ricky Faber

Ricky-Faber-se-leeu-van-jou-hart

Ricky Faber se album, Leeu van jou hart. Foto: Ricky Faber se Facebookblad.

Omtrent vier jaar gelede het Ricky Faber sy eerste album, Suiwer, vrygestel, en met dié album het hy vir hom ‘n SAMA-benoeming in die kategorie vir Afrikaanse sokkie-dansmusiek losgeslaan.

Nou is hy terug met sy tweede album, Leeu van jou hart, en die vraag is hy op daardie sukses gaan voortbou. Met die titelsnit kom jy reeds agter dat hierdie album op ‘n meer volwasse gehoor gemik is. Christiaan Kritzinger het dit geskryf, en hier kom ‘n mens agter dat hy meer talent het as waarvoor hy voorheen erkenning gekry het. Jason Bradley sing die volgende snit, Dis net jy, saam met hom. Rudi Muller het dit geskryf, en dit is ‘n moontlike treffer. Die eerste enkelsnit vanaf die album, is Môre is dalk te laat, wat Cordelia Potgieter vir hom geskryf het. Dit is reeds besig om ‘n treffer op verskeie radiostasies te word, en dit is regtig ‘n uitstekende snit. Cordelia het ook die volgende snit, Om asem te haal sonder jou, geskryf. Cordelia is self ‘n gevestigde sangeres en liedjieskrywer, en dit is goed dat sy en Ricky aam begin werk het. Bitter wyn is nog ‘n snit wat Cordelia vir hom geskryf het, en ondanks die titel is dit glad nie ‘n neerdrukkende snit nie.

Net vir jou is nog ‘n goeie snit wat deur Christiaan Kritzinger geskryf is. Dit is duidelik dat Ricky nie sy jonger aanhangers afgeskeep het nie; Draai jou woorde om is ‘n lekker dans-snit wat Cordelia vir hom geskryf het. Net ek en jy is nog ‘n snit wat ‘n treffer kan word. Om jou by my te hou, nog een van Cordelia se bydraes tot die album, word as ‘n moontlike treffer beskou. Op die dansbaan is onbeskaamd op jonger luisteraars gemik, maar dit is nie ‘n slegte snit nie. Rudi Muller het die volgende snit, Somernagte, geskryf. Rudi het hom die laaste tyd op Christelike musiek toegespits, maar hy bewys hier weer eens dat hy ook goeie kommersiële Afrikaanse liedjies kan skryf. Ricky het self ook ‘n bydrae as liedjieskrywer gelewer; hy en Juan Boucher, wie se jongste album ook onlangs vrygestel is, het Hardloop tot by jou saam geskryf. Prinses is ‘n pragtige komposisie van Rudi Muller en Ricky se platebaas, Kobie Koen. Daar is lank al ‘n debat oor kommersiële kunstenaars wat Christelike snitte opneem. Ricky het die snit Jesus lewe op die album ingesluit, en dis goed dat hy dit gedoen het. Miskien is een of twee Christelike snitte op ‘n album beter as ‘n hele Christelike album. Hoe ook al, dit is ‘n goeie snit, en miskien moet Ricky so iets op elke album insluit.

As ‘n mens hierdie album met sy vorige een vergelyk, is dit byna onmoontlik om te glo dat dit dieselfde kunstenaar is. Daar was snitte op Ricky se album wat kritiek verdien het, maar met hiedie album het hy gewys dat hy ongelooflik as kunstenaar gegroei het. Die feit dat die album reeds besig is om treffers op te lewer, is ‘n bewys dat hy op die regte pad is en dat hy sy plek in die musiekbedryf sal kan volstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.