[Resensie] Liedjieskrywer breek droogte met nuwe album

wouter-van-de-venter

Die liedjieskrywer Wouter van de Venter breek die stilte met sy jongste album ‘Toe roep jy my’. Foto: Verskaf.

Wouter van de Venter is ’n ou bekende in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Ná ’n lang liedjieskryf-droogte is hy nou terug met sy album Toe roep jy my.

Dié album is vars en Wouter wys daarmee sy staal as een van die beste liedjieskrywers. Dis voorwaar ’n goeie vooruitsig vir die bedryf met oorspronklike liedjieskrywers soos hy.

Daar is gewis ’n hele paar aanspraakmakers vir enkelsnitte op die album. “As jy lag”, “Klaradyn”, “As die hippies begin dans” en “Toe roep jy my” gaan nog lank op die trefferparades pronk.

Tertius Human is die medevervaardiger.

Solank as wat Wouter kan onthou, was hy ’n liedjieskrywer, sê hy. Hy het ná skool sy graad in jazz aan die destydse Technikon van Pretoria voltooi en aanvanklik net in Engels geskryf tot en met 1995 toe hy sy eerste Afrikaanse liedjie geskryf het.

In sy beginjare het hy bevriend geraak met Jannie du Toit en ’n lewenslange vriendskap gevestig.

Met sy meesterlike kitaarspel en as liedjieskrywer-ghoeroe het hy Laurika Rauch drie jaar lank op die kitaar begelei. Saam het hulle onder meer in die Royal Albert Hall en Wembley in Engeland opgetree.

“Dit was die beste drie jaar van my lewe,” sê Wouter.

As prominente liedjieskrywer was Wouter ook agt jaar lank betrokke by die ATKV se liedjieskryfskool. Hy was ook een van die stigterslede van die kitaarsensasie 6 Snare.

Die album is uitgereik deur Vonk Musiek en word versprei deur Real Music distribution.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.