[Resensie] Liza Brönner – Dans op jou eie

liza-bronner-dans-op-jou-eie

Liza Bronner se jongste album ‘Dans op jou eie’. Foto: Verskaf.

Sedert Liza Brönner in 2009 op negentienjarige ouderdom tot die musiekbedryf toegetree het, het sy heelwat hoogtepunte in haar loopbaan bereik, soos die vroulike hoofrol in die verhoogproduksie Liefling teenoor Bobby van Jaarsveld.

Sy was die afgelope tyd nogal stil, onder meer omdat sy met die veelsydige instrumentalis en sanger Ricus Nel getroud is, maar sy het onlangs haar stilte verbreek met die vrystelling van haar nuwe album, Dans op jou eie.

Die eerste snit op die album is “Skuldig bevind”, wat sy saam met Vaughan Gardiner geskryf het. Die eerste enkelsnit op die album was “Hamer”, ʼn baie goeie liedjie wat sy saam met die regisseur van die album, Jake Odendaal, geskryf het.

“Emosioneel” is nog ʼn spanpoging van Liza en Jake, en weereens is dit ʼn moontlike treffer. Vaughan en Nerine Gardiner het saamgespan vir “Liefde is…” en dis goed om Andriëtte se naam as mede-komponis te sien. Sy kon dit net sowel opgeneem het, maar dis goed dat Liza dit op hierdie album ingesluit het.

Die huidige enkelsnit is “Verlief op die idee van my”, wat deur Vaughan en Nerine Gardiner geskryf is. Dis goed dat dit ʼn treffer is, want dit stuur ʼn baie sterk boodskap uit wat mans soms nie wil hoor nie. Hulle het “Laaste soen” ook saam geskryf en dit behoort ook ʼn enkelsnit te wees.

Die volgende snit is ʼn verrassing. Liza is te jonk om die oorspronklike vrystelling van The Staccatos se treffer “Cry to me” te onthou, maar sy het sekerlik daarmee grootgeword. Sy het dit op die album ingesluit, maar teruggegaan na die ritme waarop Solomon Burke dit oorspronklik in die vroeë 1960’s gesing het. Dis wonderlik om te sien dat ʼn relatief jong kunstenaar teruggaan na die heel oorspronklike klank van ʼn bekende liedjie. Welgedaan, Liza!

Liza en Vaughan het die titelsnit saam geskryf, en die boodskap is dat jy jou individualiteit moet uitleef. Daarom was dit ʼn goeie keuse vir ʼn titel vir die album. Liza en Jake het “Snap crackle pop” saam met Wikus Bothma geskryf en dit is die een snit wat op ʼn jonger gehoor gemik is.

Op “Wonder of jy weet”, wat sy saam met Wikus Bothma geskryf het, wys sy dat sy ook rustige ballades kan sing. Die tweede bekende liedjie wat Liza ingesluit het, is Roxette se groot treffer “It must have been love” en haar weergawe is selfs rustiger as die oorspronklike een.

In “Ware kleure” stuur sy weer ʼn sterk boodskap uit, naamlik dat ʼn mens nie moet voorgee om te wees wat jy nie is nie. Daar is ʼn bonus-snit aan die einde van die album. Liza hou nie haar mond vir boelies op skool of enige ander plek nie en op “Sit jou hand op jou mond” neem sy sterk standpunt hierteen in.

Hoewel ʼn mens soms wonder wat van ʼn kunstenaar geword het as hulle lanklaas nuwe musiek vrygestel het, is dit baie keer die moeite werd om daarvoor te wag. Dit is goed dat Liza so lank gewag het, want op hierdie album is daar ʼn aantal uitstekende snitte en daar is ʼn moontlikheid dat baie van hulle treffers kan word. Welkom terug, Liza!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae