Resensie: Mallemeule – James en André

james-en-andre-mallemeule

James en André se jongste album getiteld Mallemeule. Foto: Echosrecordbar.co.za

Sedert die broers James en André ’n paar jaar gelede op die musiektoneel verskyn het, het hulle hulle as een van ons land se voorste sangpare gevestig.

Hul eerste album was ’n huldeblyk aan Groep 2, seker die gewildste sangpaar wat ons land tot dusver opgelewer het, maar met hul tweede album, Volmaakte klanke, het hulle hul eie stempel begin afdruk, en veral “Kombuis” het ’n groot radiotreffer geword. Nou is hulle terug met hul derde album, Mallemeule.

James is die ouer broer, en hy het gedurende sy hoërskoolloopbaan heeltemal blind geword nadat hy voor die tyd lankal swaksiende was. Nogtans is hy die een wat die meeste snitte op die album geskryf het. Die titelsnit behoort ’n treffer te word, en hierop kan ’n mens agterkom dat hulle baie goed harmonieer. James bespeel die akoestiese kitaar en André die baskitaar.

“Dit kan net nie” gaan dalk die eerste treffersnit van die album wees, en weer eens is dit een van James se komposisies. “Krokodil” is nog een van die hoogtepunte op die album; dit het ’n lekker ritme en slim liriek. “Warrelwind” is ook ’n moontlike treffersnit, weer eens as gevolg van intelligente liriek. “TV-meisie” sal veral by jonger luisteraars byval vind. Laasgenoemde snit is dalk effens speels, maar “As liefde gebeur” is weer die teenoorgestelde.

James en André se weergawe van “Stuur groete aan Mannetjies Roux” is effens anders as wat ’n mens gewoond is; dit klink asof Johnny Cash hulle beïnvloed. Hoe ook al, dit klink besonder goed. “Kampvuuraande” is die laaste snit wat James geskryf het; dit is ’n baie mooi snit wat radiolugtyd verdien. “Neem my saam” was die temaliedjie van die televisiereeks Jopie Adam; dit is geskryf deur Koos du Plessis, en nie deur Hansie Roodt soos dit op die omslag aangedui is nie.

Die volgende snit is ’n baie goeie weergawe van “Don’t be cruel” van Elvis Presley. Die laaste snit is Simon and Garfunkel se bekende treffer “Cecilia” en weer eens het hulle ’n goeie weergawe daarvan opgeneem. ’n Verrassing aan die einde van die CD is ’n weggesteekte snit, ’n uitstekende weergawe van Lucas Maree se bekende treffer “Victoriabaai”. Dis jammer dat hierdie snit nie op die CD-omslag aangedui word nie, en net as ’n weggesteekte snit ingesluit is, want dit is ongelooflik goed.

Deur die jare het verskeie sangpare gekom en gegaan, maar die enigste twee wat volgehoue sukses kon behaal, was Groep 2 en Herbie en Spence. Met hierdie album het James en André bewys dat hulle in hierdie geselskap tuishoort. Al wat nou moet gebeur, is dat al meer radiostasies hul musiek moet begin speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mandi Hewitt ·

I/s: James & Andre

Hierdie twee man’s het nie NETgreatt stemme en harmonisering nie, maar lieflike persoonlikhede!! Asemrowende talente wat hul ten volle benut! Mag Suid-Afrikaanse luisteraars vas after hulle staan! Fantasiese interaksie met hul ondersteuners, opregte mense-mense!! Trots Suid-Afrikaans!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.