Resensie: ‘Manne wat glo 2’

Manne-wat-glo

Jan de Wet, Dewald Gouws, Willie Joubert en Leon Ferreira is lid van die gospelgroep, Manne wat Glo. Foto: Facebookblad

Die groot nuus op die Christelike musiektoneel verlede jaar was die besluit van vier gevestigde solosangers om ʼn supergroep te vorm.

Jan de Wet, Leon Ferreira, Willie Joubert en Dewald Gouws het elkeen al hul stempel op die musiekbedryf afgedruk, maar toe hulle bymekaargekom het as Manne wat Glo het hulle vorendag gekom met die beste Afrikaanse Christelike album.

Nou is hulle terug met hul nuwe album, Manne wat glo 2, en die vraag is of hulle dit kan volhou. Die eerste snit op die nuwe album is “Geboorteland”, ʼn nuwe komposisie van Dewald Gouws. Dit dra ʼn positiewe boodskap oor Suid-Afrika oor, en enigiemand wat daaraan dink om die land te verlaat, moet dalk eers hierna luister.

Leon het die volgende snit, “Spore van hoop”, geskryf; dit sluit baie by die vorige snit aan en kan een van die treffers van die album word. “Geloof, hoop en liefde” is weer eens een van Dewald se nuwe komposisies, en hierin sing hulle van hul sentrale boodskap, naamlik om die Woord van die Here te verkondig aan dié wat dit nodig het.

Dewald het “Vergewe my” saam met Jan de Wet en Willie Joubert geskryf, en hierin sing hulle van enige kind van God se begeerte dat Hy sy of haar sondes sal vergewe. Willie het “Here leer my om man van God te wees” geskryf; die woorde van hierdie lied behoort die gebed van die hart van elke kind van God te wees.

Leon het die Afrikaanse woorde van “Hy kom op die wolke” geskryf, en hierin sing hulle van die verwagting van die wederkoms. Dit is beslis nog ʼn snit wat ʼn treffer kan word. Nog ʼn moontlike treffer is “Ons lê ons krone neer”, Jan de Wet se eerste bydrae as komponis op hierdie album. Hierin sing hulle van hul begeerte om God alleen die eer te gee, eerder as om enigiets vir eersug te doen.

Dewald het “Nuwe lewe” geskryf; dit is sekerlik geïnspireer deur Filippense 3:13-14, waarin Paulus bely dat hy hom losmaak van wat agter hom is en hom uitstrek na dit wat voorlê. Nog ʼn lied wat deur ʼn teksgedeelte in een van Paulus se briewe geïnspireer is, is “Niks kan ons skei”, na aanleiding van Romeine 8:35-39. “Stuur u engele” is nog ʼn snit wat Jan de Wet geskryf het. Willie het “Vir hom wat wag” geskryf, na aanleiding van Jesaja 40:31.

Met die droogte wat tans voorkom, sal mense dink dat Willie se komposisie “Stuur u reën” ʼn gebed vir reën is. Dit is egter dieper as dit; die liriek van hierdie snit word in ʼn geestelike sin bedoel. Die volgende snit is die hoogtepunt van die hele album. “O die Heer is goed” is ʼn lekker saamsinglied, en dit sal hopelik oral in gemeentes van alle denominasies gesing word.

“Reik na die sterre” het gelukkig niks met Bles Bridges se gelyknamige treffer te doen nie; dit is ʼn oorspronklike snit wat Jan geskryf het. Op hul vorige album het hulle die bekende lied “Alle volke klap jul hande” opgeneem, en die laaste snit is nog ʼn lied wat in die Liedboek van die Kerk voorkom. “Lofsing die Here” is ʼn lied waarmee almal grootgeword het, en ʼn mens sal onmiddellik begin saamsing. Die verwerking verskil egter net ʼn bietjie van die een in die Liedboek, maar ʼn mens raak dit gou gewoond.

Met hierdie album het Manne wat Glo weer eens bewys dat hulle ʼn aanwins vir nie net Christelike musiek nie, maar ook plaaslike musiek oor die algemeen is. Nie net kan al vier van hulle regtig sing en liedjies skryf nie, hulle dra ook ʼn baie sterk boodskap oor. Daarom kan hierdie album nie sterk genoeg aanbeveel word vir Christen-musiekliefhebbers nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa B ·

Ek hou baie van hulle musiek. Hulle mag maar saam sing. Klaar die 2de CD aangeskaf. Alhoewel ek dink dat Manne Wat Glo 1 nog voorloop en die beste een van die 2 is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.