Resensie: My hartjie – Karlien van Jaarsveld

Karlien-van-Jaarsveld-My-hartjie

Karlien van Jaarsveld se nuwe album ‘My hartjie’. Foto: Facebook.

Dit gebeur selde dat twee lede van een gesin sukses in die musiekbedryf behaal en in Suid-Afrika  was daar min sulke gevalle.

Hoewel Bobby van Jaarsveld al tien jaar in die musiekbedryf is en groot sukses behaal het, het sy suster, Karlien, nog nooit vir hom teruggestaan vandat sy op die toneel verskyn het nie. Haar derde album (eintlik haar vierde, maar haar debuutalbum is heruitgereik), My hartjie, is pas vrygestel, en die vraag is of dit net so suksesvol as die ander twee gaan wees.

Karlien en haar man, die voormalige Blou Bul-losskakel Derick Hougaard, het aan die begin van die jaar hul ongebore babadogtertjie verloor en die album word ter nagedagtenis aan haar opgedra. Die titelsnit, geskryf deur Johan Vorster, is reeds ‘n radiotreffer.

Die omslag van die album is iets besonders; die voorbladfoto is in swart en wit en sy sit met ‘n geskeurde denimbroek op dié foto.  “Geskeurde jeans” is dan ook die tweede snit op die album en hierdie komposisie van Johan Vorster is nog ‘n moontlike treffer.  “Woorde” is ‘n baie goeie oorspronklike komposisie van Johan Oberholzer.  Nog ‘n goeie Johan Oberholzer-komposisie is “Jy is”.

Karlien het egter nie net oorspronklike snitte ingesluit nie. Die eerste bekende snit is Fleetwoord Mac se grootste treffer, “Go your own way” en gelukkig klink dit nie heeltemal soos die oorspronklike weergawe nie.

Dit lyk asof Karlien ‘n groot aanhanger van Bonnie Tyler is, want sy het twee van dié bekende sangeres se treffers ingesluit.  Haar weergawe van “Holding out for a hero” klink nie naastenby soos die oorspronklike een nie. Sy sing dit in ‘n akoestiese styl en wyk heeltemal van die rock-styl van die oorspronklike weergawe af.

Riana Nel het haarself die afgelope paar jaar as ‘n uitstekende liedjieskrywer  gevestig en “Breek” is haar bydrae tot hierdie album. Weereens is dit ‘n snit wat ‘n treffer kan word. Daniel en Elijah is die name van Derick en Karlien se tweelingseuntjies en Karlien het  die liedjie “Daniel en Elijah” vir hulle geskryf.

“Lewe vir liefde” is ‘n spanpoging van Karlien en Johan Vorster en dit is beslis een  van die beste snitte op die hele album.  “Tot die perde horings kry” is ‘n pragtige komposisie van Christoph Kotze, Johan Vorster en Ewald Coleske.  “Voel weer” is die tweede snit waarvan Karlien die woorde  en musiek geskryf het en is die laaste oorspronklike snit op die album.

“Bitterblue” is die tweede Bonnie Tyler-treffer op die album en vir ‘n verandering kan ‘n mens na hierdie liedjie luister. Die redes hoekom ek dit sê, is dat hierdie liedjie nie by Bonnie se stem pas nie, en dat die musiekverwerking van die oorspronklike weergawe klink te veel na dié van Rod Stewart se treffer “Rhythm of my heart”, wat ‘n jaar voor die oorspronklike opname verskyn het. Daarby is die gestroopte akoestiese klank van Karlien se weergawe iets besonders.

Sy het dieselfde gedoen met Bruce Springsteen se groot treffer “Dancing in the dark” en weereens is dit radikaal anders as die oorspronklike een.  Die laaste snit wat op die CD aangedui word, is ‘n keurspel van twee van Laurika Rauch se treffers, “Kyk hoe glinster die maan” en “Stille waters”.  Die laaste snit is ‘n akoestiese weergawe van “Jakkals trou met wolf se vrou”, maar dié is om een of ander rede versteek.

Karlien het weer met hierdie CD bewys dat sy een van ons land se voorste kunstenaars is.  Sy werk saam met ‘n goeie span liedjieskrywers, maar sy kan ook self met goeie komposisies vorendag kom. Daarby druk sy haar eie stempel op bekende liedjies af eerder as om die oorspronklike kunstenaars slaafs na te volg. Hierdie album gaan ‘n groot sukses wees, en dalk gaan sy oor ‘n jaar met ‘n hele aantal toekennings wegstap!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.