Resensie: ’n Tas vol Cash – Adam Tas

Adam-Tas-n-tas-vol-cash

Adam Tas bring met sy jongste album hulde aan die musieklegende, Johnny Cash. Foto: Facebook.

Dit is nou al tien jaar sedert die rolprent Walk the line vrygestel is.

Hierdie rolprent vertel die lewensverhaal van die countrysanger Johnny Cash. Joaquin Phoenix het die hoofrol vertolk en Reese Witherspoon het geskitter in haar rol as Johnny se tweede vrou, June Carter. Adam Tas was van kleins af al ’n Johnny Cash-aanhanger, en nadat hy ’n keurspel van Johnny Cash se treffers op sy album Man van stof ingesluit het, het hy eindelik besluit om ’n volledige album vry te stel waarop hy hulde aan hierdie country-legende bring.

Die eerste snit op die album is “God’s gonna cut you down”, wat postuum op die album American V: A hundred highways ingesluit is. “Ghost riders in the sky” is seker een van Johnny se heel bekendste treffers, maar dit is oorspronklik in 1948 deur Stan Jones geskryf en opgeneem. “The man comes around” kom van die laaste album wat gedurende Johnny Cash se leeftyd vrygestel is. “I got stripes” is nog een van Johnny Cash se bekendste treffers; dis jammer dat dit nie in sy geheel in Walk the line ingesluit is nie. Daarom is dit goed dat Adam Tas dit ingesluit het; sy weergawe daarvan is trouens baie goed.

Johnny was bekend daarvoor dat hy ’n toegewyde Christen was, en “Ain’t no grave” is een snit waarop ’n mens dit duidelik agterkom. Weer eens is Adam Tas se weergawe baie goed. “One piece at a time” kan as ’n “eienaardigheid” beskou word; dit word gepraat eerder as gesing, maar die musikale verwerking daarop is baie goed. “Cocaine blues” gee ’n mens dalk die indruk dat Johnny dwelms gebruik het, maar dit is nie waar nie, al was hy in ’n stadium verslaaf aan voorskrifmedikasie. Johnny het hierdie liedjie tydens sy bekende konsert by die Folsom-gevangenis gesing. Adam Tas het regtig ’n uitstekende weergawe van hierdie snit opgeneem. “Redemption day” is nog ’n snit wat op die album American V: A hundred highways voorgekom het; dit is ook deur Sheryl Crow opgeneem.

Johnny Cash se musiek is gewoonlik deur vinnige ritmes gekenmerk, maar Hurt was effens rustiger en Adam Tas klink baie goed wanneer hy in ’n lae register sing. “A thing called love” was die titelsnit van ’n album wat Johnny in 1972 opgeneem het.

“A boy named Sue” was ’n treffer in 1969, en die woorde, wat gepraat eerder as gesing word, laat ’n mens lag. “The long black veil” kom, soos “A boy named Sue”, uit 1969, maar hoewel Joni Mitchell dit saam met Johnny gesing het, het Adam Tas dit alleen opgeneem. “I won’t back down” was die eerste enkelsnit vanaf Tom Petty se eerste solo-album, maar Johnny Cash se weergawe was ook redelik gewild. Daarom hoort dit op hierdie album. Dieselfde keurspel wat op Man van stof verskyn het, kom ook hier voor. Dit bestaan uit die treffers “Ring of fire”, “Get rhythm”, “Folsom prison blues” en “I walk the line”. Dis jammer dat hy nie al hierdie snitte afsonderlik opgeneem het nie. Die laaste snit op die album is ’n nuutskepping; dit is ook die titelsnit van die album. Dit pas baie goed by dié album, omdat dit in die tipiese Johnny Cash-styl gesing word; weliswaar sonder die vinnige ritme.

Daar het die afgelope tyd soveel albums verskyn waarop plaaslike kunstenaars hulde aan oorsese legendes bring, en ongelukkig is nie almal ewe oortuigend nie. Daar is egter geen twyfel dat hierdie album Johnny Cash se nalatenskap eer aangedoen het nie. As jy Walk the line geniet het en sukkel om Johnny Cash se musiek in die hande te kry, moet jy hierdie album by jou versameling voeg!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.