Resensie: N1 van my hart deur Jak de Priester

In 2002 het die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vir die eerste keer met Jak de Priester kennis gemaak toe hy die ATKV Crescendo-kompetisie met sy komposisie Sally Williams Nougat gewen het.

Ná die sukses wat hy met sy vorige album, Die liefde los ‘n spoor behaal het, is hy terug met sy sewende album, N1 van my hart. Die eerste snit vanaf hierdie album Fyn lyn, is reeds ‘n treffer. Die lirieke laat ‘n mens dink, anders as die gemors wat sommige “kunstenaars” in musiekliefhebbers se keelgate afdruk.

Skrif teen die muur is nog ‘n liedjie met lirieke wat iets om die lyf het en verdien om radiolugtyd te kry. As jy vir my smile is een van twee liedjies wat hy spesifiek vir sy vrou, Michelle, geskryf het. Die ander een is die volgende snit, Liefde van my lewe. ‘n Mens wonder of eersgenoemde die ware verhaal vertel van hoe hy op haar verlief geraak het. Liefde van my lewe is ‘n baie mooi snit; ‘n dalk ‘n bietjie persoonlik vir die radio, maar nogtans iets besonders. Jak dra Die heel eerste dans op aan sy skoonma, wat onlangs in ‘n motorongeluk oorlede is. Die titelsnit is nog ‘n pragtige snit, en soos hy op die CD-omslag vertel, is elke snit op die album deur iets spesifiek geïnspireer. Dit onderskei hom van baie ander mense wat hulle as liedjieskrywers voordoen. Die kitaarwerk op In ons bubble is uitstekend; dit verwoord die tipiese leefstyl van die moderne Suid-Afrikaanse gesin. Die lirieke is baie skerp; daarom verdien dit om ‘n treffer te word. Hiep-hiep-hoera Suid-Afrika het ‘n aansteeklike ritme en die sosiale kommentaar is vlymskerp. Dit kan net so ‘n groot treffer soos Roer jou voete word as te veel mense nie aanstoot neem nie. Trein na Kaapstad is ‘n pragtige snit, weer eens is dit net jammer van die deurmekaar taalgebruik wat hier voorkom. Jak sou in die rolprent Klein Karoo gespeel het, maar omstandighede het hom verhinder om dit te doen. Hy het In die arms van die Klein Karoo vir die vervaardiger daarvan, Cobus van den Bergh geskryf.

In 10 jaar sing hy van sy eerste dekade in die musiekbedryf. Hy dra Gee jou hart vir liefde op aan Caring daisies, ‘n groep vroue wat mense help en hul lewens verander.

Die land is aangegryp deur die verhaal van Pippie Kruger, wat erge brandwonde opgedoen het en ‘n veloorplantig ondergaan het; Jak het een aand vir haar gesing en hy vertel dat dit sy lewe verander het. Karoogebed is ‘n pragtige snit, wat bewys dat Jak ‘n uitstekende liedjieskrywer is. Brood is deur Laurika Rauch opgeneem op haar album Twee duisend en tien. Jak het dit natuurlik self geskryf en dit is goed om ook sy weergawe daarvan op CD te hê.

Jak het sy aanhangers bederf deur vyf van sy vroeë treffers weer in te sluit, naamlik Groen mamba, Roer jou voete, Binnelanders, Die liefde los ‘n spoor en Sally Williams Nougat. Daar is seker min mense wat hierdie CD sal koop wat nog nie van sy vorige musiek in hul versamelings het nie, maar dis goed dat hy dit weer ingesluit het.

Met hierdie album het Jak net weer bewys dat hy een van die min kunstenaars op die Afrikaanse musiektoneel is vir wie musikale integriteit belangrik is, maar ook weet hoe om ‘n treffer te skryf. Daarom is dit sonder twyfel een van die heel beste albums wat die laaste tyd vrygestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nadia ·

Ek is absoluut gek na sy musiek en het alle cd’s sover. Kan nie wag om die een te kan gaan koop nie! ‘n Digterlike, eerlike en sonder fieterjasies tipe sanger wat se musiek met ‘n mens se hart praat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.