[Resensie] Nagligte – ‘Hoop in die donker’

Nagligte-album

Die omslag van die album ‘Hoop in die donker’ Foto: Verskaf.

Dit gebeur maar selde dat ʼn kunstenaar of groep Afrikaanse rock wat op ʼn groot gehoor gemik is, vrystel, want gewoonlik is dit só alternatief dat net ʼn handjievol mense daarna kan luister.

Die Heuwels Fantasties was tot dusver die een groep wat dit goed reggekry het, maar Nagligte se eerste album, Hoop in die donker, is dalk nog ʼn stap in daardie rigting. Die groep bestaan uit die hoofsanger, Jacobus “Roof” Brink, wat ook kitaar en klavier speel,  Wynand Jonker, wat kitaar speel en die tromspeler, Daniël “Eddie” Brink. Roof en Wynand het mekaar in 2000 op universiteit ontmoet en hoewel die een aanvanklik skepties oor die ander se musikale vermoë was, het hulle na een optrede besluit om ʼn orkes te stig.

Nadat hulle hul drome meer as ʼn dekade lank eenkant toe geskuif het en aan die werklikhede van die lewe aandag gegee het, het hul droom in 2014 eindelik momentum begin kry toe hulle liedjies saam met Eddie begin skryf het. Hulle almal is voltydse sakelui en hulle wou iets doen om uit te kom uit wat hulle as ʼn sieldodende bestaan beskou.

Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties is ʼn goeie vriend van die groep en hy het voorgestel dat hulle vir Fred den Hartog kry om ʼn album te vervaardig. Daarna het Francois de Klerk ook ʼn paar liedjies vervaardig.

Die eerste snit op die album is “Ongeloof(lik)”, wat Hunter Kennedy en Fred den Hartog saam met hulle geskryf het. Hierin sing hulle van die ontnugtering wat mense soms in hul lewens ervaar.

“Skyn”, wat hulle self geskryf het, sluit hierby aan, want hulle sing van ʼn “sirkuslewe” wat hulle insluk en mal maak.  Die titelsnit is effens meer positief; hierin sing hulle van die hoop waarna mense soek in moeilike omstandighede.

“Dit stop nou” was die eerste enkelsnit van die album en die boodskap is dat hulle nie aan sekere mense verantwoording hoef te doen oor hul doen en late nie. “Veg en skree” sluit by die sentrale tema van die album aan, naamlik dat ʼn mens te midde van moeilike omstandighede moet aanhou veg, al is jy op jou knieë.

“Vir nou” is een van die hardste rocksnitte op die album en dit is weereens gebore uit ontnugtering met die wêreld soos dit is. “Konsentreer” neem standpunt in teen die idee dat ervaring wysheid bring en die boodskap is dat prestasie nie bevrediging gee nie.

“Bly” is nog ʼn snit wat gaan oor die eindelose soeke na sin in die lewe, asook na iemand wat jou verstaan. In “Die roepstem” kom ʼn soeke na identiteit ter sprake, asook na iemand om na jou te luister.

“Beter dae” is dalk meer positief as die meeste ander snitte op die album en daar is sprake van hoop vir die toekoms. Die musiek van die laaste snit, “Eensaam”, herinner baie aan “A sky full of stars” van Coldplay en dit is ook een van die meer positiewe snitte op die album.

Op die ou end laat dié album jou met gemengde gevoelens. Die meeste snitte spreek van ontnugtering en ʼn soeke na sin en identiteit, wat vir sommige mense dalk te veel sal wees.

Die groep verdien egter volpunte vir die feit dat daar, anders as met sommige ander albums in die rockgenre, nie een vloekwoord voorkom nie. Dit wys dat dit op ʼn groter gehoor as die meeste ander rockalbums gemik is. As jy nie omgee om byna die hele tyd na die sentrale boodskap te luister nie, kan hierdie album sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae