Resensie: ‘Net  so’ – Gert Koevert

Gert-Koevert-Net-so

Gert Koevert se jongste album is getiteld, Net so. Foto: Facebook.

Hoewel  Gert Koevert nog nie heeltemal so bekend in die Afrikaanse musiekbedryf is nie, het hy twee jaar gelede een van net vier kunstenaars geword wat vir ’n Ghoema-toekenning in die rock-kategorie benoem is nadat sy debuutalbum, Geseëld, vrygestel is.

Nadat hy verlede jaar Op pad vrygestel het, is hy terug met sy derde album, Net so. Volgens Gert het aanhangers hom gevra om ’n aantal bekende snitte in te sluit omdat hy dit al vier jaar lank tydens optredes sing. Die eerste snit op die album is George Ezra se “Budapest”. Dit was een van die grootste treffers van verlede jaar, en hoewel Gert ’n goeie weergawe daarvan opgeneem het, is hierdie liedjie dalk te nuut om deur ’n ander kunstenaar opgeneem te word. Daarby weet ’n mens ook nie of dit die geskikte snit is om as die eerste een op ’n album in te sluit nie.

Die tweede snit op die album is Van Morrison se “Brown eyed girl”. Hierdie snit is nou al holrug gery, en laat ’n mens wonder of enigiemand hoegenaamd in enige van Van Morrison se ander treffers belangstel. Weer eens het hy nie ’n slegte weergawe daarvan opgeneem nie, maar ’n mens wonder of dit regtig nodig was. “Doodloopstraat”, die eerste Afrikaanse snit op die album, gee ’n mens ’n baie goeie idee van waartoe Gert in staat is as sanger en liedjieskrywer. Dit is een snit wat regtig ’n baie goeie kans het om ’n treffer te word. Die volgende snit op die album is nog ’n bekende een, naamlik Lynyrd Skynyrd se bekende “Sweet home Alabama”. “Candlelight en rooiwyn” is nog een van Gert se eie Afrikaanse komposisies, en weer eens ’n moontlike treffer.

As daar een bekende snit is wat Gert regtig sy eie gemaak het, is dit Guns ’n Roses se eerste groot treffer “Sweet child o’mine”. Die inleiding wat Slash op die oorspronklike weergawe op sy elektriese kitaar gespeel het, word hier op klavier gespeel. ’n Mens wonder of daar enige kitaarspeler in ons land is wat Slash sou kon nadoen. Gert verdien volpunte vir sy uitstekende vertolking van hierdie liedjie!

“Junior” is een van drie Afrikaanse snitte wat Gert nie self geskryf het nie. Dit is ’n rustige snit wat wys dat hy nie net kan rock nie. Gert se weergawe van “Lisa se klavier” is baie goed, en veral die mondfluitjie gee dit ’n effens anderse klank, maar dit is een van daardie Afrikaanse liedjies wat net té gereeld opgeneem word. “Water en vuur” is nog ’n baie goeie nuwe Afrikaanse snit wat byna vir seker ’n treffer gaan word. Bob Dylan se bekende komposisie “Knockin’ on heaven’s door” is volgende op die album, en hoewel hierdie snit ook as holrug gery beskou kan word, klink Gert se akoestiese rock-weergawe besonder goed.

“Sorry my baby” is een van Gert se eie komposisies, en weer eens ’n moontlike treffer. Creedence Clearwater Revival se “Bad moon rising” is seker een van die lekkerste saamsingliedjies wat daar is, en Gert het ’n baie goeie rock-weergawe daarvan opgeneem. Sover ek weet, is hy die eerste kunstenaar wat ’n elektriese kitaar in hierdie liedjie gebruik, en dit maak dat jy die volume tot verby sy maksimum wil oopdraai.

“My hometown” word verkeerdelik op die album as Gert se eie komposisie aangedui; dit was die laaste snit van Bruce Springsteen se topverkoper-album Born in the USA. Weer eens het Gert ’n uitstekende opname daarvan gemaak.

Die laaste twee snitte op die album is die Afrikaanse en Engelse weergawes van ’n liedjie wat hy vir die rugbyspan wat hy ondersteun, die Leeus, geskryf het. Dit was lankal tyd dat iemand ’n liedjie vir die Leeu-ondersteuners skryf (Steve Hofmeyr en Wicus van der Merwe het onderskeidelik “Die Blou Bul” en “WP jou lekker ding” vir dié onderskeie spanne geskryf), en dit klink baie goed.

Met hierdie album wys Gert dat hy ’n sanger en liedjieskrywer is om mee rekening te hou. Dis jammer dat hy ’n paar snitte ingesluit het wat al te veel kere opgeneem is, maar dan moet ’n mens byvoeg dat hy oor die algemeen baie goeie opnames daarvan gemaak het. Daar is ook genoeg oorspronklike snitte op hierdie album wat treffers kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.