Resensie: ‘Nogtans sal ek sing’ – Anneli van Rooyen

Anneli-van-Rooyen

Anneli van Rooyen. Argieffoto.

Sedert Anneli van Rooyen agt jaar gelede ʼn operasie ondergaan het wat skeefgeloop het, het die meeste mense sekerlik gedink haar sangloopbaan is iets van die verlede omdat daar onherroeplike skade aan ʼn regterkantste gesig- en mondsenuwee aangerig is.

Nogtans het Anneli besluit om nie moed op te gee nie, maar om weer te probeer. Die gevolg is haar eerste nuwe album in 12 jaar. Haar laaste album, Weerklink, het in 2003 verskyn, en is intussen heruitgereik. Nou is sy egter terug met haar nuwe album met die gepaste titel, Nogtans sal ek sing. Hierdie album bestaan uit nege nuwe opnames, onder meer van ʼn paar van haar groot treffers, asook agt bestaande snitte.

Die eerste snit op die album is ʼn splinternuwe verwerking van haar groot treffer “Ek lewe”. Toe Anneli onlangs ʼn gas op Karen Zoid se program, Die republiek van Zoid-Afrika, was, het sy en Karen dit saam gesing. Karen het dit ook al voorheen opgeneem, maar baie stadiger en in ʼn laer register as Anneli se oorspronklike weergawe. Hierdie opname herinner baie aan Karen se opname, en baie van Anneli se aanhangers sal miskien effens teleurgesteld wees omdat sy nie die hoë note waaraan ʼn mens gewoond geraak het, sing nie.

Dit laat ʼn mens wonder of Anneli se stemkwaliteit agteruitgegaan het. Hierdie vrese word gelukkig met die titelsnit besweer. Sy het hierdie snit self geskryf; haar eerste nuwe komposisie in baie jare. Dit is ʼn openhartige lied waarin sy eerlik en opreg sing oor haar gesondheid en steeds die Here loof te midde van haar omstandighede.

“Sing tot eer van die Here” is ʼn uitbundige loflied wat deur Hannes Bosman geskryf is; dit is ʼn lied wat maklik deur gemeentes van alle denominasies aangeleer en gesing kan word. “U alleen is God” is ʼn pragtige aanbiddingslied wat dalk ook byval by gemeentes sal vind. Anneli het “Icarus” die eerste keer op haar album Ek lewe ingesluit, maar die woorde is vandag nog net so toepaslik soos destyds. “U sal my kry” is nog ʼn nuwe komposisie wat Anneli vir hierdie album geskryf het.

“Here heilige Here” is ʼn aanbiddingslied wat Johan Heystek geskryf het, en reeds tydens eredienste gesing word. In “U weet die beste” sing sy van geloof te midde van moeilike tye en die onsekerheid van wat God se wil met ʼn mens se lewe is. “Ek glo” was een van Anneli se grootste treffers, maar dit is weer vir hierdie album opgeneem. Gelukkig kom ʼn mens op hierdie snit agter dat haar stemkwaliteit nog baie dieselfde as voorheen is. Die verskil op hierdie opname is egter dat sy dit hier tot eer van die Here sing.

Die volgende snitte is al voorheen uitgereik, maar dis goed dat dit weer op hierdie album ingesluit is. “Weerklink” was die titelsnit van Anneli se laaste kommersiële album voor hierdie een. “Vaandel van my drome” was nog ʼn snit wat oorspronklik op daardie album voorgekom het. “Seënbede” is ʼn pragtige snit wat net so wel ʼn amptelike kerklied kan wees; dit is ongelukkig vrygestel nadat die Liedboek van die Kerk verskyn het, maar daar is ʼn koorverwerking daarvan in omloop.

Van die Liedboek gepraat; die volgende snit is wel ingesluit, naamlik Greta Benade se “Neem ons bede aan” wat dalk onder kerkgangers bekend sal wees as “Here God van liefde”. Hoe ook al, dit is ʼn pragtige oorspronklike Afrikaanse komposisie, en daar is te min daarvan in die Liedboek ingesluit.  Die volgende snit is die bekende “Oorwinningslied”; die probleem is hier dat sy dit in Afrikaans en Engels sing. Sy moes vooraf besluit het watter taal sy wou sing. As ek reg onthou, het Anneli eenkeer met ʼn optrede vertel dat sy met die Skotse tenoor Kenneth McKellar se musiek grootgeword het, en dat hy “Seën hierdie huis” in Afrikaans opgeneem het. Dit is moontlik, aangesien hy liedere soos “Die ou eikestad”, “Stap aan deur ons velde” en “My hart verlang na die Boland” opgeneem het. “Naggebed” is nog ʼn snit wat oorspronklik op die album Seënbede voorgekom het. Die laaste snit op die album is “Halleluja”, wat ʼn treffer geword het nadat Ronell Erasmus dit opgeneem het.

Anneli kan met reg as een van die legendes van Afrikaanse musiek beskou word. Baie mense was bekommerd oor haar sangloopbaan nadat sy die operasie ondergaan het, en min mense het gedink dat sy ooit weer ʼn album sou opneem. Daarom was hierdie album een van die grootste verrassings van die jaar. Diegene wat gewonder het of Anneli nog sou kon sing, kan seker wees dat sy dit nog kan doen, al kom ʼn mens agter dat sy nie meer so jonk is soos voorheen nie. Welkom terug, Anneli!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Enid Schoeman ·

Trane van blydskap rol oor my wange sooo verskriklik bly om te hoor sy doen n nuwe album. DANKIE Anneli ek koop beslis een OF meer !! Baie dankie dat jy ten spyte van jou terugslae en baie pyn kans gesien het om weer te sing. Alle eer aan die Here en ons bid jou verligting van pyn en seen op jou lewe toe.

Siebert Mazus ·

Dankie Anneli. Ek lewe, gemaak om na liefde te strewe.

Wilma ·

WOW stunning! welkom terug! het skoon trane in my oe gekry!!!

Maryna ·

Jippee!! My kind moes in Junie ‘n werkopdrag vir skool doen oor ‘n bekende SA sanger/eres en wat sy/haar invloed op Afrikaans en aanhangers se lewens het. Ons het vir Anneli gekies! Sy is en sal altyd ‘n inspirasie vir almal wees.

Rina ·

Anneli, so lekker en wonderlik om jou weer deur die Groot Genade te kan hoor sing. Dit is ABSULUUT pragtig hierdie video. ( het dit ook al gehoor, toe jy by Pieter Koen in die ateljee was), maar van jou unieke stem kan n mens nooit ooit genoeg kry nie. Jy is vir ons almal n baie groot inspirasie. Doe so voort x <3 x.

Francie ·

Ek het myne reeds bestel en kan nie wag om daarna te luister nie. As een wat soms ook so hier en daar ‘n ongemak en seer het, kry ek skaam om te sien met watter innerlike krag en kalmte jy jou situasie verwerk het. (Kwela). Voorwaar ‘n inspirasie en voorbeeld vir almal – aan God die eer! Die Here het jou ‘n wonderlike stem gegee en Hy hou dit in stand, deur al jou beproewing deur. Baie dankie daarvoor.

Martie ·

Ek het nog net een snit van Anneli se nuwe album gehoor en dit was vir my fantasties en wow!!
Maar ek sê weer en sal dit weer sê “Soos ou vriende” Anneli…………daardie lied is en sal altyd my gunsteling wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.