Resensie: ‘Ons gaan nou lekker dans’ – Verskeie kunstenaars

Ons-gaan-nou-lekker-dans

Ons gaan nou lekker dans. Foto: Verskaf.

Wanneer ʼn mens ʼn partytjie of sommer net ʼn lekker kuier beplan, is daar een ding wat altyd ʼn probleem is, naamlik die regte musiek vir so ʼn geleentheid.

Gewoonlik is platejoggies maar aan die duur kant, maar gelukkig is daar pas ʼn versamelalbum vrygestel wat dalk net die antwoord is. Ons gaan nou lekker dans bevat nie minder nie as 43 snitte van plaaslike en oorsese kunstenaars.

Die eerste snit op die album is net die regte een om ʼn partytjie lewe te gee, naamlik “Raise your glass” van Pink. Daar is natuurlik nog een van haar treffers wat net so geskik daarvoor sou gewees het, naamlik “Get this party started”.

In 2009 het drie liedjies die Afrikaanse trefferlyste oorheers, naamlik “Kaptein” van Kurt Darren, “Baby tjoklits” van Gerhard Steyn en “Jessica” van Ray Dylan. Die goeie nuus (of slegte nuus as jy nou al behoorlik keelvol vir hierdie liedjies is) is dat al drie hier ingesluit is.

Boney M het in die 1970’s en vroeë 1980’s ʼn spul treffers gehad, maar nadat hulle lank stil was, het hulle “Going back west” op ʼn niksvermoedende publiek losgelaat. Pieter Smith het “Stukkie van der Merwe” geskryf en DJ Ossewa sing dit saam met hom; dit is seker die grootste treffer van sy loopbaan tot dusver.

Steve Hofmeyr en Juanita du Plessis is twee van die suksesvolste kunstenaars in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Hul onderskeie treffers, “Pampoen” en “Lepellê”, is hier ingesluit.  Shaft se “Mucho mambo (Sway)” is gegrond op Dean Martin se treffer, “Sway”, maar net die eerste twee reëls van die hele liedjie word deurentyd gesing. Nogtans het dit ʼn groot danstreffer geword.

Snotkop het eers regtig gewild geword nadat hy die liedjies “Song vir my Dad” en “Dis ʼn land” vrygestel het, maar “Parapapa” was een van sy eerste groot treffers. “Footloose” was een van die suksesvolste dansrolprente van die 1980’s, en daarom is dit goed dat die temaliedjie, gesing deur Kenny Loggins, hier ingesluit is. Natuurlik moes daar ook ʼn bietjie rock ʼn roll ingesluit word, en wat sou nou beter wees as Elvis Presley se groot treffer, “Don’t be cruel”?

Die Klipwerf-Orkes bestaan al meer as 40 jaar, en gelukkig word hulle nie meer as ʼn Boereorkes beskou nie. Hoe ook al, hul weergawe van “Loslappie” is hier ingesluit. John Denver se bekende treffer, “Take me home country roads”, is aanvanklik deur Hermes House Band as ʼn partytjieliedjie opgeneem, en House Cowboys het presies dieselfde gedoen.

DJ Ossewa se tweede bydrae tot hierdie versameling is “Briljantjie”, wat eintlik net sin maak tydens ʼn konsert of wanneer daar partytjie gehou word.

Fredi Nest is ongelukkig onlangs oorlede, en daarom is dit goed dat daar ook op hierdie album hulde aan hom gebring word. Hy het die titelsnit van sy album, Hey DJ, geskryf en opgeneem toe hy al diep in sy veertigerjare was; nogtans het hy jonger kunstenaars gewys hoe dit gedoen word deur ʼn dansgier tot stand te bring.

Enigiemand wat die 1980’s beleef het, sal goeie herinneringe hê aan Fancy se treffer, “Flames of love”, wat destyds gereeld op elke sokkiejol gespeel is. Omtrent tien jaar later was “Ooh ah just a little bit” net so gewild, en Gina Bee se weergawe verskil nie veel van die oorspronklike een van Gina G nie. Nog ʼn lekker danstreffer was “Clap clap sound”, wat omtrent twee maande lank die nr. 1-posisie op Springbok Radio se amptelike trefferlys gehaal het. Die Bokjollers se weergawe is hier ingesluit.

Die jong Mexikaanse sanger Ritchie Valens is in ʼn vliegongeluk dood toe hy net 17 jaar oud was, en die rolprent La bamba het sy lewensverhaal vertel. “La bamba” was Ritchie se grootste treffer, en Los Lobos het dit vir die klankbaan  van die rolprent opgeneem. Dit het ʼn internasionale treffer geword.

Die samewerking tussen Valiant Swart en Ollie Viljoen was ʼn reusesukses, en dis goed dat die titelsnit van hul eerste album saam, Vuur en vlam, hier ingesluit is. Daar is net twee snitte op die album (die instrumentale snitte uitgesluit) wat nie in Afrikaans of Engels gesing word nie. Die een is “La bamba” en die ander een Gipsy Kings se weergawe van die bekende Italiaanse liedjie “Volare”, waarmee hulle internasionale sukses behaal het.

Die Bokjollers se Zorba-keurspel, wat bestaan uit “Zorba the Greek” en “Hava Nagila” sal mense sommer vinnig op die dansvloer kry. “Drie pikkewyne” en “Rooi rok bokkie” het die loopbane van onderskeidelik Jakkie Louw en die Campbells aan die gang gekry, en daarom is dit goed dat albei snitte hier ingesluit is.

Die laaste snit op die tweede CD is Shine 4 se weergawe van Tansvision Vamp se nr. 1-treffer, “I want your love”.

Soos ʼn mens kan verwag, is daar iets vir almal in hierdie versameling, maar nie almal sal van sommige snitte hou nie. Hoe ook al, daar is genoeg snitte om ʼn partytjie behoorlik lewe te laat kry en daarom behoort die gewildheid van hierdie CD niemand te verbaas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.