Resensie: ‘Onweerstaanbaar’ – Candy Benson

candy-benson_onweerstaanbaarHoewel Candy Benson al ’n rukkie lank op die musiektoneel is, het haar eerste album, Niks kan my keer nie, maar net meer as ’n jaar gelede verskyn. Dié album het die treffers “Stywer vas” en “Dit wat ons harte deel” (saam met Willem Botha) opgelewer, terwyl die titelsnit ook ’n enkelsnit was.

Nou is sy terug met haar nuwe album, Onweerstaanbaar, en hierdie keer sing sy nie net in Afrikaans nie. Candy het die titelsnit saam met Vaughan Gardiner geskryf, en dit lyk asof dit die eerste Afrikaanse treffer van die album gaan wees. Vaughan en Nerine het saamgespan vir die volgende snit, “Jy laat my harder lag”, en weer eens is dit ’n moontlike treffer. Vaughan was ook een van die regisseurs van die album.

“Kiss you forever” is ’n hoogtepunt van die album; Daniel Baron het dit geskryf en help verwerk. Dit het reeds die speellyste van verskeie radiostasies gehaal en as dit die liedjie is waarmee sy haar deurbraak gemaak het, verdien sy dit.

“Leen my jou lippe” is nog ’n komposisie van Vaughan en Nerine Gardiner, en dit is nog ’n moontlike treffer. “Tot die son opkom” is ’n hoogtepunt van die album, en sal die mees mismoedige mens hoop vir die lewe gee. Daarby is die gango, ’n snaarinstrument wat ’n bietjie na ’n banjo klink, iets besonders. Hierdie snit móét ’n treffer word!

Hanré Masser het “Jy gee my hoendervleis” geskryf en dit is, soos Candy tereg sê, iets besonders. “You bet” is die tweede Engelse snit van die album; hierdie keer is dit ’n snit met ’n effense country-klank. Vaughan en Nerine het weer saamgespan vir “Moenie te veel gee”, en die boodskap laat ’n mens dink.

Lucas Maree se dogter, Monica, het “Vat die kans” geskryf, en ’n mens kom agter dat sy haar pa se talent geërf het. “Wat is jou naam?” is nog ’n komposisie van Monica Maree, en baie mense sal hulle daarmee kan vereenselwig. “Dancing with a broken heart” is nog ’n wenner uit Daniel Baron se pen; dit bewys dat hy een van ons land se voorste kunstenaars en liedjieskrywers is. Die laaste snit is “Waiting”, nog ’n komposisie van Daniel Baron, maar hoekom dit as ’n bonussnit aangedui word, weet nugter.

Daar is nog iets wat mense sal waardeer, en dit is dat sy biografiese feite van haarself op die omslag ingesluit het; dit maak dat ’n mens haar ook as mens beter leer ken. Hoe ook al; die musiek moet die hardste praat, en in Candy se geval gebeur dit baie beslis. Sy het vorendag gekom met ’n baie goeie album wat haar gewildheid net al meer sal laat toeneem.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

riana ·

Candy baie trots op jou hou so aan girl jy gaan nog baie ver kom.

Wali ·

Candy se album is beslis tops, dis op al wat n playlist by my, werk, huis, foon selfs my mp speler. Candy gaan beslis nuwe hoogtes bereik met hierdie album.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.