Resensie: ‘Op ʼn ernstige noot’ – Thys die Bosveldklong

Thys-die-Bosveldklong-op-n-ernstige-noot

Thys die Bosveldklong met sy album, Op ‘n ernstiger noot. Foto: Pietercloete.com

Die afgelope 20 jaar het die plaaslike musiekbedryf Thys die Bosveldklong leer ken as ʼn kunstenaar wat hoofsaaklik grappige liedjies sing en wie se musiek gemik is op dieselfde gehoor as dié van Worsie Visser, Francois Hayes en Zak van Niekerk.

Nou het hy egter met Op ʼn ernstige noot ʼn radikale nuwe rigting in sy musiekloopbaan ingeslaan. Thys se broer, Piet Streicher, is jare lank al sy klankman en vennoot, maar lewerkanker is op die jong ouderdom van 37 jaar by hom gediagnoseer en Thys het besluit om liedjies wat hy nog altyd tydens vertonings in ʼn akoestiese styl gesing het, as ʼn huldeblyk op te neem.

Die eerste snit op die album is “Dis dieselfde son”, wat oorspronklik deur Leon Ferreira en Jolette Odendaal opgeneem is. Die lirieke het baie meer om die lyf as die meeste liedjies wat Thys in die verlede opgeneem het, en laat ʼn mens nadink. “She’s in Love with a Rodeo Man” was oorspronklik ʼn treffer vir Don Williams en hierop wys Thys dat hy ewe goed Engels as Afrikaans kan sing. “Ami” is ʼn pragtige snit wat maklik ʼn treffer kan word.

“Nog een koppie koffie” is deur Lucas Maree geskryf en was een van die treffers op sy album Miljoen. Daar is nog een van Lucas se komposisies op dié album, maar later meer hieroor.

Jacques Botes het “My hart se kamers” as ʼn huldeblyk aan Koos du Plessis geskryf, en dis goed dat Thys hierdie pragtige snit ingesluit het. “Ritsel in die wind” is nog ʼn pragtige snit wat radiolugtyd verdien.

“I’ll Have to Say I Love You in a Song” was ʼn treffer vir Jim Croce, maar dit het eers werklik ʼn treffer geword nadat hy in ʼn vliegongeluk dood is. Weer eens het Thys ʼn baie mooi opname daarvan gemaak. Anton Goosen was, en is steeds, een van ons land se voorste liedjieskrywers, en dis goed dat Thys besluit het om een van sy mooiste, maar minder bekende, komposisies, “Jy’s ʼn lady”, in te sluit.

“Weer ʼn keer” is die tweede komposisie van Lucas Maree wat Thys ingesluit het, en dit was beslis een van Lucas se bestes nóg. Kupido het groot bekendheid verwerf as die komponis van “Was ek maar ʼn digter”, maar “Speelgoed” het bewys dat Kupido tot meer as net liefdesliedjies in staat was. Hierdie liedjie is eintlik baie hartseer omdat dit gaan oor ʼn kind wat dood is. “Rooikopkind”, geskryf deur Leon Beukes, is die treffersnit op die album. Leon het een van Thys se grootste treffers, “Ou bobbejaan” geskryf, en met hierdie liedjie wys hy dat hy ook ernstige liedjies kan skryf. Die laaste snit op die album is sy weergawe van Roger Whittaker se bekende treffer “The Last Farewell”, en op hierdie snit kan ʼn mens agterkom dat Thys se musiektalent nie onderskat kan word nie.

Dis regtig hartseer dat dit juis persoonlike omstandighede is wat Thys geïnspireer het om ʼn album soos hierdie een op te neem, maar aan die ander kant kan mense wat Thys onderskat het besef dat hy werklik ʼn talentvolle kunstenaar is. Hoewel hy blykbaar van plan is om terug te keer na die musiekstyl waarmee hy bekendheid verwerf het, hoop ʼn mens dat hy gou weer ʼn “ernstige” album sal opneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.