Resensie: Pak my in jou tas – Tiro

Tiro-Pak-my-in-jou-tas

Tiro se nuwe Afrikaanse album, Pak my in jou tas, is nou beskikbaar. Foto: Facebook.

Deur die jare was daar verskeie kunstenaars wat in Namibië gebore is en ’n groot indruk op die Afrikaanse musiektoneel gemaak het.

Die bekendstes was tot dusver Juanita du Plessis en die twee susters, Riana Nel en Nianell. Tiro het egter in 2009 ’n Sama-toekenning gewen vir sy Christelike album Speak to me. Sy debuutalbum het drie jaar tevore verskyn, en daarop het hy gewys dat hy enige genre kan baasraak en in verskeie tale, onder meer Afrikaans, kan sing.

Nadat hy lank stil was, het hy so pas sy jongste album, Pak my in jou tas, vrygestel. Op hierdie album sing hy net in Afrikaans. Die eerste snit, “Leer my”, is ’n bestaande melodie waarvoor hy Afrikaanse woorde geskryf het. Die titelsnit is ’n komposisie van Franna Benade, wat saam met sy broer, Innes, die eerste Debuut-kompetisie in 1987 gewen het. “Gee my jou hart” is ’n baie goeie snit wat dalk een van die treffers van die album kan word. “Ek verlang baie vanaand” is nog ’n komposisie van Franna Benade, en hier wys Tiro sy veelsydigheid as kunstenaar. “Afrika-klanke” is nog ’n snit wat ’n treffer kan word. “Kan jy onthou” is nog ’n snit waarvoor Franna Benade die woorde geskryf het.

Die getroude sangpaar Anders het die volgende snit, “Jy is die een”, geskryf en oorspronklik opgeneem. Tiro se opname is baie goed, en steek glad nie by die oorspronklike een af nie. “Nie alleen” is nog ’n bestaande melodie, waarvoor Tiro die Afrikaanse woorde help skryf het. “Ek sal vir jou wag”, ook geskryf deur Franna Benade, is dalk een van die beste snitte op die album, beslis een wat ’n treffer kan word. “Liedjie oor jou” is ’n komposisie van Wynand Delport van Anders; snaaks genoeg was dit nie een van die treffers van hul vorige album nie. Wie weet, dalk sal Tiro hierdie saak regstel. Die laaste snit is ’n verrassing. Wie onthou nog Die Troebadoer se treffer, “Sommerso sonder rede”? Hoewel dit destyds baie gewild was, het baie mense dit dalk al vergeet en daarom is dit goed dat Tiro dit ingesluit het.

Dis eintlik snaaks dat Tiro so lank gewag het om ’n Afrikaanse album vry te stel, maar dis goed dat dit eindelik gebeur het. Die vraag is net of die radiostasies hul samewerking gaan gee deur dit gereeld te speel, want indien dit gebeur, kan Tiro nog baie gewild word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

‘n Groot indruk op die Afrikaanse musiektoneel gemaak ?
Nee-wat, vir my nie so wat wonders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.