Resensie: ‘Plek hier in die son’ – Anton Botha Band

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Dit gebeur nie sommer dat ʼn kunstenaar twee albums in een jaar uitreik nie, maar dit is presies wat Anton Botha vanjaar gedoen het.

Skaars het hy My grootword-liedjies, ʼn versameling bekende Afrikaanse liedjies, uitgereik of hy is terug met Plek hier in die son, wat hoofsaaklik uit nuwe, oorspronklike komposisies bestaan.

Die titelsnit is een van die nuwes en dit is ʼn lekker positiewe liedjie wat besig is om ʼn treffer te word. “Groot vuur baie bier” sal byval vind by dié wat hou van lekker kuier.

Op “11de planeet” sing hy van berusting nadat iemand oorlede is; ʼn mens weet nie of dit dalk ʼn goeie vriend was nie.

“Bo uitkom” is nog ʼn snit wat ʼn treffer behoort te word. Dit is ʼn lekker positiewe snit wat radiolugtyd verdien. Die kitaarwerk op “moeilikheid” is besonder goed, en weer eens is dit ʼn snit wat verdien om ʼn treffer te word, veral as gevolg van die slim lirieke.

Die volgende snit is die eerste een wat Anton nie self geskryf het nie – Chris Isaak se groot treffer, “Wicked Game”. Daar is min te kies tussen Anton se weergawe en die oorspronklike een.

“Alles of niks” was die titelsnit van Anton se vorige album, maar hy het besluit om dit weer in te sluit.

Die volgende snit is die tweede bekende een wat hy ingesluit het, naamlik Bruce Springsteen se treffer “Tougher than the Rest.” Die kitaarwerk is uitstekend en Anton het ʼn uitstekende weergawe van dié bekende liedjie opgeneem.

Toe Jan Blohm tien jaar gelede tot die musiekbedryf toegetree het, was “Breyten se brief” sy eerste groot treffer. Hoewel Anton in hierdie snit baie na Blohm klink, het hy daarin geslaag om ʼn goeie opname van ʼn gewilde liedjie op te neem.

Anton beïndruk egter nie net met Afrikaanse liedjies nie, soos wat hy met “Higher” bewys. Met hierdie snit behoort hy die aandag te trek van radiostasies wat nie noodwendig Afrikaanse musiek speel nie.

“Goodbye” is nog ʼn oorspronklike snit wat Anton geskryf het.

“Nie wat ek begeer nie” is ʼn oorspronklike Afrikaanse komposisie wat ʼn treffer kan word.

Die laaste oorspronklike Engelse komposisie op die album is die lekker rock-snit “Destiny”, wat ook die potensiaal het om baie gewild te word.

Daar is een baie lekker verrassing op die album. Baie mense onthou seker die Volkswagen-advertensie van die jong paar wat ʼn Beetle nuut gekoop het en hom deur al die jare gehou het saam met ʼn aantal nuwer modelle en die Beetle dan vir hul seun gegee het vir sy agttiende verjaardag. Die liedjie wat in dié advertensie voorgekom het, was “Memories”, wat deur André de Villiers geskryf en oorspronklik gesing is. Anton het besluit om dit op te neem, en ʼn mens kan net vir hom dankie sê.

Die laaste snit op die album is “Wat jy aan my doen”, wat hy self geskryf het.

Toe Anton tot die musiekbedryf toegetree het, het hy gereeld elektroniese instrumente in sy musiek gebruik en nie gewys waartoe hy regtig in staat is nie. Dit het egter later al hoe duideliker geword dat Anton ʼn uiters talentvolle sanger, kitaarspeler en liedjieskrywer is. Hierdie album is beslis sy beste een nóg en kan sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mariska Koekemoer ·

Ek stem 100% saam.

Anton Botha se musiek is verfrissend en presies wat enige musiekliefhebber in hul versameling benodig. Ek het sy nuwe album twee weke gelede op ‘n veryoning aangekool en dit is al waarna ek luister!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.