Resensie: ‘Reg hier in die middel’ – Ray Dylan

Ray-Dylan-Reg-hier-in-die-middel

Ray Dylan se jongste album ‘Reg hier in die middel’ is een van sy beste Afrikaanse albums tot dusver. Foto: Facebook.

Nadat Ray Dylan groot sukses met sy huldeblyk aan Roy Orbison behaal het, het hy, ná ʼn afwesigheid van twee jaar, teruggekeer na die musiek wat hom aanvanklik bekend gemaak het, naamlik kommersiële Afrikaanse musiek.

Reg hier in die middel is Ray se eerste Afrikaanse album sedert Harte van goud, wat onder meer die treffer “Crazy lief vir jou” opgelewer het. Die titelsnit is ʼn komposisie van Ray self, saam met onder andere Emil Struwig, Don Kelly, Neil Schoombee en Adolf Vorster. Ray se aanhangers sal hiervan hou, maar die titel is dalk ʼn anglisisme. “Blou bul honey” is die Afrikaanse weergawe van Darius Rucker se treffer “Homegrown honey”. By hierdie snit kom ʼn mens agter dat Ray country baie goed kan sing; miskien word dit ʼn treffer. Die woorde is ook meer op Suid-Afrika van toepassing gemaak.

Brendan Peyper het nou al twee treffers gehad en sy debuutalbum is nog nie eens vrygestel nie. Hy sing “Hierdie skoen gaan pas” saam met Ray en dit is byna ʼn uitgemaakte saak dat dit ʼn treffer gaan word. ʼn Mens sal moet wag en kyk of dit ook op Brendan se CD gaan verskyn, maar dit is ʼn sterk moontlikheid. “Warm girls en koue bier” gaan veral gewild wees onder jonger luisteraars en dié wat lief is vir kuier. “Ons skip sal kom” sal enigiemand wat moedeloos oor die lewe is, weer nuwe hoop gee. Die eerste enkelsnit van die album is Ray se eie komposisie, “Ek sal jou moet laat gaan”, wat reeds ʼn treffer begin word.

Daar is baie mense wat hulle met die woorde van “Baie te min” kan vereenselwig; dit is nog ʼn moontlike treffer. “Sê my hoeveel keer” sluit hierby aan; die liriek is dieper as baie van die treffers wat Ray al in die verlede gehad het. “In lewende lywe” is nog ʼn snit wat ʼn treffer kan word.

Emil Struwig het “Te goed om waar te wees” geskryf; dit is nog ʼn goeie snit wat radiolugtyd behoort te kry. “Loop soos heuning oor my” is ʼn lekker country-snit, en sy aanhangers behoort baie daarvan te hou. Daar is net een Engelse snit op die album, “Drink a beer”; dit was oorspronklik ʼn treffer vir Luke Bryan en dis goed dat Ray dit opgeneem het omdat dit moderne country aan ʼn groter gehoor bekendstel. Die laaste snit op die album is Ray se eie komposisie, “Gebore vir jou”, en gelukkig is dit nie ʼn weggooisnit nie. Dit is trouens ʼn jammerte dat dit aan die einde van die CD voorkom.

Ray het voorheen soms sy eie talent weggesteek deur met musiek vorendag te kom wat loodreg op die kommersiële mark gemik was en nie veel inhoud of betekenis gehad het nie. Daar is baie voorbeelde; dit is nie nodig om dit hier te noem nie. Hierdie keer het hy egter nie dieselfde fout gemaak nie; hoewel daar ʼn aantal snitte is wat wel trefferpotensiaal het, is dit asof hy ʼn bietjie daarvan wegbeweeg het. Dit is moontlik sy beste Afrikaanse album in baie jare, indien nie sy heel beste tot dusver nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.