Resensie: Republiek van Zoid Afrika volume 1

Republiek-van-Zoid-Afrika

Aanhangers van die Republiek van Zoid Afrika sal verjeug wees om te hoor dat Karen Zoid en haar span tans ‘n tweede seisoen van die gewilde televisiereeks vervaardig. Foto: Karen Zoid se Facebookblad.

Een van die gewildste televisiereekse die afgelope tyd op kykNet, was Die Republiek van Zoid Afrika, waarop Karen Zoid gesels het met sommige van die mense wat sy bewonder, onder meer Riaan Cryuwagen, die voormalige Springbok-rugbykaptein Corné Krige, oud-president Nelson Mandela se assistent Zelda la Grange, asook Sharleen Surtie-Richards, Pieter-Dirk Uys en Anna-Mart van der Merwe.

Natuurlik was daar ook ‘n aantal van haar mede-kunstenaars op die program, en op openbare aanvraag is daar pas ‘n CD en DVD vrygestel waarin die musiek van hierdie reeks voorkom. Die eerste snit is Troublemaker, waarop die hoofsangeres van die groep Freshlyground, Zolani Mahala, saam met haar sing. Gewoonlik word Kurt Darren nie in dieselfde asem as Karen genoem nie, doodeenvoudig omdat hul musiek op uiteenlopende gehore gemik is. Notgans was Kurt op die program, en die volgende snit is ‘n keurspel wat bestaan uit haar treffer Engel en sy treffer Hemel op Tafelberg. Op laasgenoemde liedjie sing Karen die harmonieë en dit klink goed. Arno Carstens is deesdae ‘n suksesvolle solo-kunstenaar, maar hy was voorheen die hoofsanger van die Springbok Nude Girls. Karen sing een van hulle treffers, Blue eyes, saam met hom. Corlea Botha sing Karen se komposisie, Mascara, saam met haar, en dit klink eintlik baie goed. Hot gates was die titelsnit van Laurika Rauch se eerste oorwegend Engelse album, en haar man, Chris Torr, het dit geskryf. David Kramer het ongelukkig lank laas nuwe musiek vrygestel, maar dis goed om een van sy vroeë treffers, Jy’s my sweetheart, te hoor. Dit is een van David se treffers wat nie meer gereeld gehoor word nie, en daarom is dit een van die hoogtepunte op die album.

Daar is baie mense wat sekerlik wonder of Karlien van Jaarsveld se musiek in dieselfde asem as Karen s’n genoem kan word, maar dit is goed om hulle twee saam te hoor. Deurmekaar is een van Karen se mooiste liedjies tot nog toe, en dit pas goed by Karlien se stem.

Die blues-kitaarspeler Dan Patlansky speel saam met Karen op Crossroads, wat gekomponeer en oorspronklik opgeneem is deur die legendariese blues-musikant Robert Johnson, wat in die 1930’s op ‘n jong ouderdom oorlede is. Karen sing twee snitte op die album alleen, en die eerste een is As musiek begin speel, wat sy ook self geskryf het. Dorothy Masuka sing Pata Pata, wat sy en Miriam Makeba saam geskryf het en ‘n groot treffer vir Miriam Makeba was, saam met Karen. As daar een snit op die album is wat grense afbreek, is dit hierdie een.

Francois van Coke is by verskeie musiekprojekte betrokke, en hy sing Tot die son uitkom, wat hy gehelp skryf het, saam met Karen. Dit is ‘n pragtige snit en anders as die meeste van die musiek waarvoor Van Coke bekendheid verwerf het. Op Lucki wys Chris Chameleon sy ware talent; dit is een van die treffers wat wat hy saam met sy groep Boo gesing het. Die tweede snit wat Karen alleen sing, is Meisie wat haar potlood kou. Die laaste snit op die album, is Sweetpakbroek, wat Karen gehelp skryf het, maar deur Sanet en Rochelle gesing word. Dit is een van die hoogtepunte op die album, en ‘n mens lag lekker vir die woorde. Hopelik sal dit ‘n groot treffer word!

Karen is seker een van die mees omstrede kunstenaars op die Afrikaanse musiektoneel; jy is mal oor haar of jy hou niks van haar nie. Hoe ook al, sy het ‘n lekker klomp kunstenaars bymekaar gekry vir hierdie reeks, en dis goed dat dit ook nou op CD en DVD beskikbaar is. Verdere goeie nuus is dat ‘n tweede reeks later vanjaar uitgesaai sal word.

Hier is die musiekvideo van Sweetpakbroek:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.